Jimi  le Roux

spiritual coaching | life coaching

Jimi CV (vir die wat belangstel...)


Curriculum Vitae

persoonlik/basies
Saunders Jacobus le Roux
Gebore 26 Desember 1961 te Kaapstad
Getroud met Maryke Redelinghuys
Twee tieners: Jacques en Andrea

persoonlike agtergrond
My pa Dr. James (J.B.S.) le Roux het as jong man by die Nuwe Protestantse Kerk aangesluit, en het Teologie gaan studeer, ook in Amsterdam (V.U.), Holland. Terug in Suid–Afrika het hy die (latere) Christelike Gereformeerde Kerk Parow bedien, en bekend geword in die “Vernuwing” van 1970+ met o.a. ‘n bekende genesingsbediening (1970–1985).  Ek het daagliks oor jare heen baie, baie mense sien gesond word op grond van eenvoudige gebed.
My ma Alma Eva Brunner van Duitsland het vroeg tot bekering gekom waar haar ouers reeds die Here gedien het in Fürstenwalde-Spree. Op ‘n besoek van Broer Andrew het sy my vader (wat in sy span gewerk het) ontmoet, het hulle verloof geraak en getrou. Sy was reeds ‘n weduwee met drie kinders. My broers en susters is:
-Friedhelm le Roux – (vroeër ds.) bedien tans met innerlike genesing (VEK) (Brackenfell)
-Siegbert le Roux – bedien as ouderling en leier in die CGK Parow
-Angela van Hansen – getroud met (vroeër ds.) PJ van Hansen (Pretoria)
-Dan kom ek!
-Rhona Kieswetter – getroud met Gary Kieswetter (prediker) (Kuilsrivier)

kerklike agtergrond
Die Christelike Gereformeerde Kerk, waar ek steeds my legitimasie het, is ‘n gereformeerde vernuwingskerk in SA, waarvan ds. Richard Verreynne tans die moderator is. Ons is gemaklik in die gereformeerde sowel as charismatiese omgewings. Die CGK bestaan uit broers en susters wat ernstig is oor die Here en sy opdrag. Wat die doop en die gawes betref, glo ek nie dat dit ooit bedoel was om die Liggaam van Christus te verdeel nie, maar juis om dit te verenig en te bevestig. Ek glo eintlik net aan één doop, en vele metodes. Ja, ek het my verbintenis aan Jesus in die Jordaan herbevestig deur onderdompeling - wonderlike ervaring... Ek ken die sg. charismatiese gawes en beoefen dit nugter en konserwatief. Ek glo ek is teologies en geestelik gebalanseerd, met die klem op die Woord en die praktyk, en stel nie baie in detail-dogmas belang nie. Ek sien my gawes eerder in leierskap, lering, bemoediging en bestuur.
Mosaïek Gemeente, waar ek laaste vir vier jaar gewerk het, is ‘n post-moderne, post-denominale makrogemeente in Johannesburg. Alles by Mosaïek het ‘n vars, nuut-gedinkte kwaliteit en die gemeente het ‘n dinamiese bediening op ‘n fantastiese kampus. Johan Geyser was (en is) die leier daar. Die gemeente staan nie in ‘n besondere kerklike tradisie nie (dit is nie uitgesproke tradisioneel of charismaties nie) en sluit aan by die Kerk in die Breë. Daar het ek waardering geleer vir die kontemplatiewe: die liturgiese diens, Taizé-sange, kerse en nagmaal by ons daaglikse toewydings – bo en behalwe die gewone dienste met postmoderne inslag, drama-momente en groot orkes. Elke diens is ‘n professionele produksie en die uitreik van die gemeente gaan diep in die gemeenskap in. Watter voorreg om daar te kon leer, werk en groei!

persoonlikheid
Ek sien myself as nugter, gebalanseerd, geestelik ingestel, intellektueel, konsensieus, gedissiplineerd, veelsydig, kreatief. Ek streef na nederigheid, opregtheid en integriteit. Ek is ‘n visioenêre en demokratiese leier en ‘n spanspeler.  My MBTI is INFJ en my kragte volgens die Clifton Strengthsfinder is Input, Ideation, Intellection, Strategic, Futuristic.

opleiding
1979 Senior Sertifikaat Hoërskool Tygerberg, Parow
Grade en Diplomas
-1984 BTh (Unisa) cum laude Volledige inleiding by Teologie Hoofvakke: Bybelkunde en Kerkgeskiedenis
-1984 Hons BA Bybelkunde (Stell) cum laude Eweredige dele OT, NT en Sistematiese Teologie
-1986 MA Bybelkunde (Stell) cum laude Struktuuranalise by die verstaan van Openbaring
-1987DipTh (CGTS) cum laude Volledige inleiding by die Praktiese Teologie
-1991 Hoër Onderwys Diploma (Unisa) Skoolvakke: Bybelkunde en Skoolvoorligting
-1993 Hons BA Sielkunde (Unisa) Klem op eko-sistemiese sielkunde
-2003 DTh – reeds twee keer begin, en ek weet ek het nog net een kans!
Formele en informele kursusse
EEIII Vlak 1, 2, 3 - Gemeente evangelisasie
World Thrust -  Sending–implementering in die Gemeente
Year of Transition -  Selkerk kursus (Ralph Neighbour)
Unisa - Huwelik en gesinsberaad graadkursusse (Dept Maatsk. Werk)
Natural Church Development - Gemeentebou (Christian Schwarz)
Embers to a Flame Vlak 1, 2 - Gemeentebou en Leierskap (PCA)
Million Leaders Mandate Vlak 1, 2, 3, 4, 5, 6 – Leierskap (Maxwell)
Global Leadership Summit (verskeie) – Leierskap (Hybels)
Facilitative Leadership – Konflikresolusie, sisteme
VIP Leadership & Coaching (Univ. Van NW) – begeleiding (life coaching)
Willem Nicol – Geestelike begeleiding
...en talle ander seminare, kortkursusse, lesings, kongresse, ens.

werksbesonderhede
1989 Personeelbeampte: Simba (Pty.) Ltd.,Parowvallei - Menslike Hulpbronne bestuur: aanstellings, afleggings Griewe, dissiplinêre aksies, arbeidsbetrekkinge.
1990–1994 Leraar, CG Kerk Benoni Gemeente - Medeleraar. Die volle spektrum van die gemeentebediening.
1995–2005 Leraar, CG Kerk Pretoria Gemeente (Neos) - Senior leraar. Die volle spektrum van die gemeentebediening.
2005-2009 Leraar, Mosaïek Gemeente, Johannesburg - Leier: Persoonlike Ontwikkeling.
2010-tans  Lewens- en Geestelike Begeleier. Terwyl ek my ordinasie by die CGK behou het, is ek in die bevoorregte posisie om voltyds te doen wat in my hart is: geestelike leiding te gee deur oordenkings, kursusse, coaching programme asook prediking, lering en konsultasie aan gemeentes.

beroepservaring
Leierskap en bestuur
Ek tree as leier op in baie hoedanighede tydens my hele bedieningslewe, en was lank op die moderatuur van die CG Kerk. Ek was tot onlangs in ‘n senior leiershoedanigheid van 'n groot gemeente, waar ek verantwoordelik was vir aanstellings, taakomskrywings, begroting, jaarbeplanning en projekte. Ons het eers die kleingroep-sisteem van die gemeente behartig volgens ‘n Community-model wat ons self ontwikkel het. Daarna was ek voltyds verantwoordelik vir die Mosaiek Akademie en ons geestelike groei kursusse.
Toerusting
Ek is ‘n geakkrediteerde dosent aan die CGTS en bied vakke tot op Honneursvlak aan in die Praktiese Teologie – Leierskap, Spiritualiteit, Pastoraat, Berading. Dit behels die hele veld van kurrikulering tot assessering. Ek was betrokke by die opstel van kursusse vir die Andrew Murray Bybelskool (CGTS), weereens met Praktiese Teologie en Bybelkunde, en ook by die Mosaïek Akademie, ‘n geakkrediteerde tersiêre instansie.
Kreatief
Ek sing, speel kitaar en lei graag die aanbidding in die gemeente. Ek is lief vir alle geestelike musiek, van gesange tot gospel-rock, en het ook kursusse oor die lei van aanbidding opgestel en in gemeentes aangebied.
Padlangs
Ek het 10 jaar gelede ‘n internet bediening begin (NETKERK) saam met Leon Goosen (gospelsanger) en Gary Kieswetter (lekeprediker), wat nie lank gehou het nie, maar wat uitvloeisel gegee het aan ‘n internetbediening PADLANGS, wat daaglikse oordenkings uitstuur aan omtrent 6600 lesers wêreldwyd.

© 2012   Created by Jimi le Roux.   Aangedryf deur .

Jimi le Roux-wapens  |  Report an Issue  |  Terms of Service