Jimi  le Roux

spiritual coaching | life coaching

ANTWOORD OP DIE PAASHAAS, ENS.

Sowel die eier as die paashaas is vrugbaarheidsimbole wat al vroeër deur die heidene gebruik is. Die Paasfees het geassosieer geraak met sekere vrugbaarheidsfeeste in dieselfde tyd en van die simbole het oorgedra.

Wat die eier betref, het dit vroeg-vroeg ‘n Christelike betekenis gekry en is vandag ‘n algemene Christelike simbool, ook in die ortodokse kerke hang hulle graag volstruiseiers oor die altaar as simbool van die nuwe lewe wat dit bring. Dink ook aan die Joodse pasga waarin ‘n eier ‘n belangrike element is. Ons het dus nie eintlik ‘n probleem met die eier nie.


Wat die hasie betref, sien ek nêrens ‘n christelike konnotasie nie. In die Joodse geloof was dit eintlik ‘n onrein dier, wat nie geëet mag word nie. Nou moet mens nie die fout maak om iets wat deur die heidene gebruik is weg te gooi, net omdat dit deur heidene gebruik is nie. Ons hele kultuur is vol elemente wat uit die heidendom kom (“ons” was mos heidene voor ons voorvaders die Christelike geloof aangeneem het – dit gaan dus oor ons eie geskiedenis). Dink aan die name vir die dae van die week wat almal nog heidense afgode is, so ook die maande van die jaar en sommige kulturele gebruike waarvan ons die oorsprong al vergeet het. Net omdat die heidene bv. die son aanbid het, beteken dit nie ons mag nie ook die son as simbool gebruik nie (soos die Bybel doen as dit die Here die "son van geregtigheid" noem nie). Ons aanbid nie meer daardie afgode (soos die son, bv.) nie. Dit is ‘n stuk kultuurgeskiedenis - ons verstaan dit en ons het dit agtergelaat. Sommige simbole is nogal universieel en kom oral voor - ook die heidene bid, vas, doop, ens. Maak dit ons heidene? As die tye van Christelike feeste min of meer ooreenval met heidense feeste, beteken dit nie die Christelike fees se oorsprong was by die heidense fees, of dit is nou sommer 'n heidense fees nie.

Maar met dit alles gesê, het ek eintlik self besluit om die paashaas maar te laat verbyhop in ons eie viering van Paasfees, want ek kan nie sien hoe dit bydra tot die betekenis van die paasgebeure nie. Dis bloot die haas se vermoë om (soos konyne) voort te plant, wat die gedagte aan nuwe lewe inhou. Watter simboliek is dit?  Ek gee hom ‘n pass, en nie ‘n Paas nie.

Daar is genoeg simbole wat ryk is aan betekenis (en ons het simbole nodig – dit help ons en ons kinders baie om dinge te verstaan) wat ons kan gebruik en wat mooi is en bydra.

Lees ook meer oor: Is Jesus Woensdag of Vrydag gekruisig?  Kliek hier

Of gaan na ons algemene vrae-blad: kliek hier

Views: 138

Antwoord hierop

© 2012   Created by Jimi le Roux.   Aangedryf deur

Jimi le Roux-wapens  |  Report an Issue  |  Terms of Service