FAQ - Algemene vrae


FAQ - Algemene vrae

Dalk wonder jy oor die volgende:

Wie is jy nou eintlik?

Ek is 'n predikant wat na 20 jaar in gemeentes nou hierdie internet bediening behartig (maar is steeds in die kerk betrokke).

En wat doen jy?

Ek behartig merendeels Padlangs Bediening: ons dagstukkies (Daaglikse Stilte en By the Way), asook ons geestelike kursusse. Ek bedien ook mense per e-pos soos hulle vir my skryf.

Dan - behalwe die internet-bediening skryf ek ook: vir tydskrifte, aan buite-kursusse en ook aan boeke (meeste by CUM Uitgewers); dan preek ek waar ek genooi word en lei ook kerkrade en kampe. Ek doen ook lewensbegeleiding (life coaching) en berading.

Ek beskou myself as 'n geestelike begeleier wat veral van die internet gebruik maak.

Hoe lank doen jy dit al?

Padlangs Oordenkings bestaan sedert 2001. Met die jare het ons die verskillende komponente bygesit en sedert 2010 doen ons dit voltyds, net soos dit nou bestaan.

Kos dit iets?

Ons dagstukkies en eintlik die meeste van ons dag se werk is gratis bediening. Ons kursusse is waar ons ons inkomste vandaan haal, want dit gaan aan diegene wat Padlangs maandeliks ondersteun. Dan bless die Here ons ook soms met donasies van vriende en ook totale vreemdelinge. Elke maand is 'n verrassing, maar daar was nog altyd genoeg. 

Werk dit?

Ja, deur die Here se genade. Padlangs word wêreldwyd gelees deur seker so 6000 mense, en honderde het al ons kursusse gedoen. Dit het al vir ons baie deure oopgemaak en baie verhoudings gebou! Ek het duisende briefies van dank gestoor (want 'n bediening se "sukses" word nie eintlik kwantitatief gemeet nie, maar kwalitatief). Soms, as ek self wonder of ons sukses behaal, dan lees ek hulle weer...

Waar is jy kerklik en geestelik?

In die middel. Ek is opgelei as gereformeerde leraar, maar uit 'n evangeliese stroom en het die vernuwing van die Heilige Gees beleef. Ek groei in die rigting van die kontemplatiewe en van post-moderne bediening. Ek fokus nie sterk op dogma nie; vir my gaan dit veral oor 'n praktiese verhouding met God in vandag se wêreld

Hoe raak ek betrokke?

Skryf in vir ons dagstukkies. So leer jy ons ken, en ons vir jou! Kyk deur ons geestelike kursusse en bestel iets, as jy wil. Ons benodig ook altyd bydraers en vrywillers (ons is 'n hele span)....

Wat is jou behoefte?

Dankie dat jy vra - oukei, mense vra dit selde, maar ek wil dit antwoord! Ons het die volgende nodig, so bid asb. saam met ons:

  • inset - om elke dag nuwe dagstukkies te skryf (dit is al oor die 3600) vra geweldige input. Ek moet baie lees en ek moet groei in verhouding met God en oop bly vir sy Gees;
  • groei (vir ons bediening) - ons het baie meer lesers nodig, meer blootstelling, meer oop deure, nuwe rigtings, nuwe bedieninge, nuwe grondgebied;
  • seën - sonder God se seën is ons niks. Alles gaan oor Hom. As ons die dag alles neerlê, en hierdie webruimte gesluit word, wil ons weet dat ons ons lewens soos wierook uitgebrand het, en dat iemand iets van SY lieflike geur kon inasem.
.