Sjoe, hierdie kwessie het baie interpretasies, en ongelukkig moet mens bietjie langer gaan as met ander vrae. Jou vraag was oor die betekenis van hierdie teks in Mat 24:
Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug... (Mat 24:15-16).
Maak asb. jou Bybel oop om te volg. Let op hierdie kort oorsig van Mat 24:
In die res van Mat 24 sê Jesus dat die tyd voor die deur is, ja naby is (v32-33) en dat hulle geslag dit sal beleef (v34-35). Nogtans kom dit baie onverwags en is die presiese dag en die uur daarvan onbekend (v36-51). Hulle moet dus net altyd gereed wees. Hoofstuk 25 bevat ‘n gelykenis met dieselfde tema (wees gereed want dit kom onverwags) (25:1-13) en sluit af met die oordeel van God aan die einde en die kriteria wat Hy sal gebruik (25:14-30 en 25:31-46).
Nou het ons ‘n goeie oorsig oor die sg. "Profetiese Rede" – die konteks van hierdie vers – en kan ons dit uitlê. Om dit reg te verstaan, moet ons dit in drie stappe doen:
STAP EEN: TERUG NA DANIëL 9
Jesus haal mos uit Daniël 9:27 aan en spesifiek hierdie deel:
Hy sal op die een hoek van die tempel ‘n ding sit wat ‘n gruwel is is vir God en wat verwoesting aanrig, en dit sal daar bly tot alles verby is.
Dit is onmoontlik om die hele uitleg van Dan 9 se 70 sewes (Dan 9:24-27) te bespreek (dit is wat die antwoord so moeilik maak want daar is boeke en boeke se uitleg geskryf wat alles van mekaar verskil), maar ons kan dit maklik maak deur te sê (vergelyk self):
Jesus het dus Daniël in gedagte as Hy met sy dissipels praat en Hy verwag duidelik nog dat iets sal gebeur, sommer nog in hulle tyd.
STAP TWEE: WAT HET IN DIE DISSIPELS SE TYD GEBEUR?
Jesus het ‘n paar keer in sy bediening gesê die tempel gaan nie bly staan nie - ‘n verskriklike aantyging. Dis so goed as om te sê God verlaat sy volk permanent. Hulle het erg aanstoot geneem. Daar is geleerdes wat sê dis hoekom Hy gedood is. As jy teen die tempel is, is jy teen God en ook teen sy volk. Jy is ‘n vyand. Hy sê ook Hy (Jesus) kom om die tempel af te breek (m.a.w. om die ou bedeling tot niet te maak) en om ‘n nuwe in drie dae op te bou (m.a.w. met sy opstanding die nuwe bedeling in te lui). Dit het hulle ook baie kwaad gemaak – die tempel is immers God se tempel.
Nogtans gebeur presies wat Jesus voorspel het: in 70 nC (ma.w. in die tyd van daardie huidige geslag) kom die Romeine onder leiding van Genl Titus Flavius Vespasianus en neem die stad en die tempel oor. Hulle, onbesnede heidene, vertrap die heilige grond. Hulle dra die embleme van hulle regimente (met afbeeldings van hul afgode daarop) die tempelterrein binne. Hulle stel dit op teenoor die Oostelike Poort en offer daar aan hulle afgode. Daarmee is die tempel ontheilig. Geen Jood sou meer naby dit kom nie. Daarna verwoes hulle die tempel vir ewig - tot vandag toe! Dit is die gruwel van die verwoesting waarvan Daniël en Jesus praat. Dit is die einde van die offerstelsel en ‘n keerpunt in die geskiedenis van die Jode. Die bevolking vlug na die berge want ‘n groot verdrukking bars los. Die stad word grootliks vernietig. Die Triomfboog van Titus staan steeds in Rome en wys hoe Titus die tempel se skatte leegdra. Jesus het dit alles vooruit gesê en inderdaad het dieselfde geslag met wie hy praat nog gesien hoe die ou bedeling skouspelagtig tot ‘n einde kom.
Dat dit is wat Jesus bedoel met hierdie vers is duidelik uit die ooreenkomstige Luk 21:20. As Matteus in Mat 24:15 in versluierde taal praat, is dit omdat hulle steeds onder Romeinse beheer is, steeds onder verdrukking is en moet let op wat hulle oor die Romeine skryf.
STAP DRIE: MAAR WAT BETEKEN DIT VIR ONS?
Het Jesus net vir sy tyd geprofeteer? Beteken dit niks vir ons nie? Onthou daar is twee benaderings in die uitleg van hierdie tipe (“apokaliptiese”) materiaal:
Beide is eintlik reg. Dit maak nie sin dat die profete van ouds iets sou profeteer wat hulle self nie verstaan het nie, en niemand van hulle lesers nie, en dat dit eers sou gebeur duisende jare van toe af. Dis soos iemand in ons tyd wat profeteer van gebeure wat in die jaar 4150 n.C. sal gebeur. Nee, die profesieë het in die tyd van die profeet baie sin gehad in hulle konteks en hulle het die vervulling daarvan verwag of gesien. MAAR die aard van die tipe gebeure is ook dat dit simboliese en tipologiese waarde het. Dit gebeur altyd en sal dus weer gebeur. Daarom kon elke generasie nog met 'n boek soos Openbaring identifiseer. Ons sien in ons tyd ook daardie kragte aan die werk. Dit het dus ook vir ons betekenis en vir wat nog voorlê. Kom ek stel dit so (en hou nog net so ‘n bietjie vas, asseblief):
<--------Ou Bedeling--------|--------Messiaanse Tyd----------|-------Ewigheid ---------->
Messias kom Wederkoms
Hoe moet ons dus die “gruwel van verwoesting” vir ons dag verstaan?
Die Bybelse verwagting is dat hierdie tyd nie vir ewig sal aanhou nie - ons glo aan 'n ewigheid, en verwag dat daar iewers 'n kataklismiese einde voorlê. Die Messiaanse Tyd het begin, maar nog nie geeïndig nie. Baie van die voorspelde gebeure lê nog voor. Wat kan ons verwag van die "gruwel van die verwoesting"? Onthou, daar is geen letterlike tempel meer nie. Sommige Christene verwag dat die tempel herbou sal word in Jerusalem en die offers heringestel sal word. Ortodokse Jode verwag ook dat dit sal gebeur as Meshiach kom. 'n Populêre scenario is dus dat 'n wêreldleier sal kom en vrede maak tussen Israel en haar vyande. Hy sal aanvaar word as die Meshiach deur die Jode, die tempel herbou en die offers herinstel. Christene sal hom egter as die Antichris eien, veral as hy homself as God voorgee. Ek glo persoonlik glad nie dat dit God se bedoeling is om na die offer van skape en bokke terug te keer nie, aangesien dit na die kruis se perfekte en finale offer onsinnig sou wees. ONS is die tempel van die nuwe bedeling, sê Petrus (1 Pet 2:5). Meer waarskynlik is dit simbolies te sien - onthou die apokalipse is strykdeur visioenêre, simboliese geskrifte ('n visioen word aan ons oorvertel). Ek dink eerder aan ‘n Antichris wat in die kerk reg aan die einde verskyn as vals leier en op ‘n manier die plek van Christus inneem (die betekenis van sy naam). Ons weet ook dat daar in die kerk ‘n Vals Profeet sal wees wat mense juis daartoe aanmoedig (Open 13:11-18). Daar sal dus weer 'n gruwelike valsheid in die kerk na vore tree en ons moet moeite doen om dit raak te sien.
Soos met die ou bedeling, hou God vir Hom weer ‘n oorblyfsel uit wat die Koninkryk beërwe. Van daardie groep wil ons deel wees!
[Ns. Ek het 'n deeglike studie geskryf oor die uitleg van Openbaring. Dit gaan omtrent vers vir vers deur Openbaring se sewe (parallelle) dele. Ons kan dit in 'n kursus sit - as iemand belang stel kan hulle maar laat weet!
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur