Wat word bedoel met die "vuur" as Johannes sê die Messias sal kom en kom doop met die "Heilige Gees en met vuur"?
Tradisioneel beteken daardie “vuur” een van drie dinge:
• Die “vuur van ywer”, m.a.w. groot vrymoedigheid met getuienis lewer, ens. Mens kan dit natuurlik in Handelinge sien gebeur.
• Die “vuur van lyding” – ons sien wel in die Bybel dat ons vir Christus sal ly. Ons maak te min hiervan in die Nuwe Testament (want dit is so onaangenaam), maar jy sien dit bv. as ‘n sterk tema by Paulus dat ons nie net aan sy lewe deel kan hê nie, maar ook aan sy dood (bv. Rom 6:5, 2 Kor 4:11-12, Fil 3:10). Ons moet ‘n “teologie van lyding” beter ontwikkel, want lyding is wel deel van ons lewe. Nogtans dink ek nie dat die “vuur” wat Jesus bring spesifiek lyding is wat Hy vir ons bring nie... (die lyding is wat ons in die wêreld teëkom).
• Die “vuur van suiwering” is m.i. meer wat bedoel word. As mens teologies kyk na die rol wat vuur speel in die Bybel en in die Nuwe Testament, en ook kyk na die voorspellings van die Ou Testament en veral Johannes die Doper se prediking wat die Messias betref, is dit duidelik dat hy praat van skoonmaak, uitsuiwer. Ons sien dit ook in Sagaria se beskrywing van Jesus se bediening aan Maria (Lukas 2:34 – Jesus bring verdeling) en selfs ook by Jesus self oor sy bediening (Luk 12:49 – Hy bring vuur). Lees die hele konteks van Johannes se aanhaling:
Mat 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas.
Mat 3:9 En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.
Mat 3:10 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
Mat 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
Mat 3:12 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.
Wat dit vir ons beteken is dat die Here kom om ons uit te suiwer. Dit het te doen met die dinge in ons wat nog uitgebrand moet word. Dit gaan oor die (dikwels pynlike) proses van ons geestelike groei. In die verband moet ons met Hom saamwerk.