Kan u asb vir my die term “nederig” definieer of beter omskryf. Om konflik te vermy is ek altyd die minste, maar dit laat my allermins goed voel!
‘n Goeie vraag nè – is ek nederig, of net swak?
Sielkundiges vra ook die vraag en ek dink die antwoord is iets soos dit (sjoe, maar dit is moeilik):
· Nederigheid is iets anders as minderwaardigheid. Konflikvermyding (wat ‘n algemene konflik-styl is – myne ook) is dalk nie sleg nie, maar dis ook iets anders as nederigheid. Onvolwassenheid en onsekerheid is ook nie nederigheid nie. Nederigheid is dalk ‘n geestelik-volwasse kwaliteit:
o Wat myself al hoe meer sien soos ek is – feilbaar, sonde-geneig, afhanklik van God
o Wat meer en meer bewus word dat God se genade alles doen, en my eie bydrae niks byvoeg nie
o Wat myself kan oorkom (hoogmoed, egosentrisme, vleeslikheid) ter wille van die Here en van ander
o Wat insluit aardsheid, gegrond-heid, natuurlikheid, menslikheid – om gemaklik te wees op grassroot-level
· Die teenoorgestelde van nederigheid is dus hoogmoedigheid, trots, “ek-is-beter-as-jy”, “ek-is-geesteliker-as-julle”, “kyk-na-my”, “ek-is-nou-diep-geestelik”, “kyk-hoe-nederig-is-ek” en sulke dinge en alle meerderwaardigheid, opgeblasenheid, snobisme,
· Mens moet sterk wees om nederig te kan wees: spiritual directors sê jy moet tot op 30 kans kry om jou ego te ontwikkel (veral mans). ‘n Sterk ego (iets ander as ‘n “groot ego”!) is gelyk aan rustige selfvertroue en verskaf die basis vir opregte nederigheid. Vanuit innerlike krag kan ons besluit om ander te laat wen, en kan ons (seker in onsself) terugstaan wat betref aandag en erkenning. Dit is juis die onvolwasse persoon wat altyd aandag en erkenning moet kry. (Onthou volwassenheid en geestelike volwassenheid oorvleuel baie sterk – ons geestelike lewe is dus ‘n psigo-spirituele saak.)
As jy sleg voel oor jou terugstaan doen jy dit miskien vanuit ‘n posisie van onsekerheid. Dan doen jy dit nie uit liefde nie, maar uit vrees. Jy moet dalk meer selfgeldend wees en verskil waar jy voel dis nodig. Oefen jouself daarin VRIENDELIK maar FERM –
(1) sê nee dankie vir klein dingetjies om mee te begin,
(2) sê nee vir take of versoeke wat ontoepaslik is: “ek is jammer, maar ek het nie tans kapasiteit vir dit nie” of “ek het laas keer uitgehelp, dis nou iemand anders se beurt”; “ek wens ek kon, maar my agenda is vol”; “dis nie my verantwoordelikheid nie – my pligstaat gee my reeds te veel om te doen”; “as ek dit moet aanneem, moet ek iets anders laat vaar – kan ek met jou daaroor kom praat (vir die baas)?”
(3) begin jou eie smake en standpunte te noem as ander hulle standpunte noem (sê “nee, ek is nou weer mal oor die Blou Bulle” of wat ook al),
(4) kommunikeer duideliker wat jy wil hê of nodig het: “ek het nodig dat hierdie werk geteken is voor dit by my kom” of “ek het nodig dat jy my bel voor jy ry, assebleif”
(5) leer om vriendelik maar ferm te sê as iets nie reg verloop het nie: “ek is baie jammer Hennie, maar ons ooreenkoms was dat jy hierdie mense sou bel”
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur