Vraag:
In die Burger se Bylaag afgelope Saterdag onder die opskrif, “My brief teen die kerkdeur” het ene Nico Geldenhuys die volgende geskryf: “Ek is 23 jaar oud en oortuig daarvan dat God nie bestaan nie. Ek is ook lidmaat van die NG Kerk, en ek is nie van plan om te loop nie”.
Verder skryf hy dat ‘n intensiewe histories-wetenskaplike studie van die Bybel ‘n paar ontstellende ontdekkings teweeggebring het, o.a: “Die maagdelike-geboorte-verhaal is op ‘n vertaalfout in die Griekse Bybel geskoei; die skrywer van die Hebreër-brief het oneerlik met sy Psalm-tekste omgegaan om sy argument te versterk; Matteus het plagiaat gepleeg en Lukas se geknoei met datums het ‘n gat in Jesus se geboorteverhaal gelaat”. Hy beweer ook dat Jesus se geboorteverhaal, die leë graf en die hemelvaart ‘n mitologie is.
My vraag is hoe ons as gelowiges hierdie tipe stellings moet interpreteer. Punt is dat dit uiters en ontsaglik ontstellend is om te lees. Is dit weliswaar deel van die hedendaagse populêre verdagmakery van dit wat ons as gelowiges soos kinders glo? Sluit dit aan by die NG sinodale besluit dat Satan nie bestaan nie? Kan u asseblief vir ons duidelikheid gee?
Antwoord:
Ja, ek het ook die artikel gelees en jy vra goeie vrae. Ja, al daardie dinge word gesê van die Bybel en nog 10 keer meer en erger. Nie alles is egter goeie wetenskap nie en nie alles is feite nie. Feite moet geweeg en gesif word. Predikante wat deur kweekskool is leer die belangrikste van hierdie beskouings (al die ondergenoemde is eintlik goed bekend) en het (meestal) nie daardeur hulle geloof verloor nie. Ja, daar sal diegene wees wat hul geloof verloor, selfs oor veel geringer dinge – meestal oor Christene wat glad nie leef wat hulle glo nie, of predikante se gedrag, of die kerk se relevansie (en daar is seker rede tot sinisme). Trouens, daar is vandag ‘n uittog uit die kerk uit, waaronder baie Christene wat voel die kerk help hulle nie verder geestelik groei nie. Kom ons sê heel eerste dat mens net met die grootste respek met elkeen moet deel wat ‘n ander geloof huldig, want dit is hulle reg en mens moet ook kan raaksien wat mooi en goed is in hulle geloof. Ook hierdie jong man is duidelik intelligent en ondersoekend en dit lyk inderdaad of hy (iets) wil glo, want hy woon steeds die dienste by en lees sy Bybel stukkend. Ek dink egter hy het nie die issues behoorlik kon weeg of inpas in ‘n nugter geloofsverstaan nie. Hy bied dit ook baie eensydig en eenvoudig aan.
My antwoorde op die volgende is soos volg (net kortliks, daar is mos reeds boeke oor elke tema geskryf):
Maagdelike Geboorte
Hy verwys na Mat 1:23 (die maagd sal swanger word en ‘n Seun baar). Dit verwys na Jes 7:14, waar in die Hebreeus nie na ‘n tegniese maagd verwys word nie. In die Griekse Ou Testament is dit vertaal na ‘n tegniese maagd toe. Matteus sê egter duidelik dat Maria swanger geword het sonder die bemiddeling van ‘n man (Mat 1:18, ook Luk 1:26-35). Die maagdelike geboorte word uitgespel en ons moet dit ongelukkig dus net glo of ook nie.
Oneerlik met Psalm-tekste omgegaan
Ons moet besef dat die Bybel geskryf is in ‘n pre-wetenskaplike era. Hulle het nie “goeie eksegese” geken nie. Hulle het die Skrif uitgelê op geestelike, simboliese of metaforiese maniere – met ‘n “dieper” betekenis. Ons leer ons studente om die Bybel NIE so uit te lê nie – op die manier lê jy dalk meer in as uit. Hoe kan ons hulle egter verkwalik as hulle die Skrif uitgelê het op hulle “gewone” manier, die manier wat vir hulle sin gemaak het? By hulle was daar geen poging tot vervalsing nie – hulle het opreg uitgelê en toegepas, alhoewel binne in hulle konteks en denkraamwerk. Dit geld ook vir hulle beskouings oor die aarde se fondamente, die hemelse “koepel” en ander antieke denke.
Matteus het plagiaat gepleeg
Ek dink dit is bietjie onregverdig. Die wordingsgeskiedenis van die eerste drie evangelies word vandag meestal verstaan as dat Markus eerste geskryf is, en dan dat Matteus en Lukas vir Markus as bron gebruik het asook ‘n ander bron (genoem Q). Dit is nie plagiaat nie – dit is wat hulle “navorsing” sou noem (sien Luk 1:1-4). Dan het elkeen ook unieke elemente bygevoeg. Eerstejaar Bybelkundestudente doen reeds die sg. “sinoptiese vraagstuk”.
Lukas se geknoei met datums
Ja, ook geslagsregisters is op pre-wetenskaplike manier saamgestel, nie om noukeurige data te verskaf nie, maar om ‘n punt te bewys. Daarom sal hulle hulle geslagsregister volgens ‘n patroon orden en sommer mense oorslaan om dit te doen, of dit deur die man en dan deur die vrou laat loop, sulke dinge. Premoderne denke.... ons moet dit verstaan. As Lukas na datums of persone verwys waarvoor ons nie buitebybelse korrelasie kan kry nie, hoef ons nie te sê dat hy gelieg het nie (dis ‘n aanname) – jy kan ook aanvaar dat hy die beste inligting tot sy beskikking gebruik het, of dat hy reg is en die buitebybelse bronne verkeerd. Beide is onderhewig aan evaluasie, as jy wetenskaplik daarna wil kyk – waarom die sekulêre bron ipso facto meer gewig gee? Trouens, van al die antieke verhale staan die Bybel eintlik uit as die mees betroubare.
Mitologie
Mens moet eintlik eers vra wat met die woord bedoel word. Op ‘n manier is alles wat ons kultureel glo ons mitologie. Dit verwys na ons kultuur se oerverhale, ons oorlewerings, die verklarings van ‘n kultuur oor waar dinge vandaan kom. Dis ‘n soort letterkunde. Alle kulture het dit. Die woord maak ons as gelowiges ongemaklik maar insigself sê dit nog niks oor waar of vals nie. En ons glo dat die geboorteverhaal, die leë graf en hemelvaart waar is. Dit is wat ons gelowiges maak. Ek dink egter dat hierdie persoon verwys na die gedagte dat hierdie elemente in Jesus se verhaal ooreenkom met soortgelyke elemente in ander kulture se verhale – hulle het ook helde gehad wat maagdelik gebore is, in die hemel opgeneem is, ens. Om ooreenkomste te vind bewys egter niks – is dit oorsaaklike verbande, is dit dalk argetipies, is dit dalk die vyand se namaaksels van God se waarheid? Sommige kom eers na die Jesus-verhaal voor.
Satan se bestaan
Nie deel van die brief nie, maar wel ge-opper: hier wil ek net vir die NG Kerk opkom (ek is nie self NG nie) deur te sê dat die sinode darem nie “besluit” het die Satan bestaan nie, maar ‘n ruimte gemaak het vir diegene wat die Satan nie as ‘n persoon sien nie, maar ‘n mag. Dieselfde sinode het ook die bediening van bevryding aanvaar as ‘n egte bediening. Dalk is dit ‘n problematiese besluit, maar ek dink dit is dalk net beter gestel.
Ek dink die groot issues in gesprekke van die aard is:
Persoonlik word ek nie uitgegooi deur sulke argumente nie. Daar is nie ‘n stryd in my nie. Ek is lief vir die wetenskap en soos daar bevindings kom, leer ek meer van die skepping – ja verstaan ek ook die Bybel beter. Op ‘n manier verruim dit my geloof. Maar die wetenskap is nie my geloof soos dit vir sommige is nie – wat daaraan “glo” (science vs. scientism). Ek dink die wetenskap werk hipoteties, dit is ontwikkelend, dit moet evalueer word en tyd gegee word. Goeie wetenskap weet ook wat dit nie weet nie. Ja, die wetenskap het ‘n grens as dit kom by “ons weet nie”. Daarna is ons almal in geloof. Ewe min as wat ek God wetenskaplik kan bewys, kan die wetenskap bewys dat Hy nie is nie. Wetenskaplikes mag nie onbewysbare uitsprake oor God maak nie – en dit is bv. ‘n suiwer geloof om te beweer dat daar NIE Iets agter die wonderlike skepping MAG sit nie (‘n goeie voorbeeld van scientism). Kan dit bewys word? So eindig ons dus dikwels met my geloof in God teenoor jou geloof in ek-weet-nie-wat-nie (seker maar dat my geloof nie waar is nie). En my geloof wen, want ek beleef dit al my lewe lank, ek leef dit, jammer – dis my realiteit, dit maak vir my sin. Dit leer my om oor myself te kom, om ander te vergewe, om genade te hê en liefde te bewys, om te dien. En dit is feite, my onomstootlike waarheid. Nee, my geloof is nie meer wat dit was toe ek ‘n kind was nie. Ek het ook gegroei en verander – meer as wat baie dink! Maar ek verstaan dat as God God is, Hy per definisie vir my verstand te groot is. Ek gee nie om nie, want my geloof gaan nie vir my oor my verstand nie – dit is my oorgawe aan die nie-verstaan, aan die Onverklaarbare. Die misterie is dat ek met Hom in verhouding bly, dat ek sy liefde beleef, dat ek veilig voel in hierdie skepping, dat ek op weg is na eenheid met Hom.
Ja, ek bly ‘n gelowige, ek bly ‘n volgeling van Jesus Christus.
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur