Vraag
Waar kom mense aan die idee dat die afgestorwenes om ons is en vir ons kyk? Ons dink tog nie daaraan op so ‘n manier nie?
Antwoord
‘n Interessante vraag en ek dink mens moet die antwoord ver gaan soek. Ek dink
(1) die mense van vroeër het ‘n baie meer magiese denke gehad as ons en het die moontlikheid van afgestorwenes om hulle eenvoudig makliker aanvaar. ‘n Ander rede was
(2) dat die vroeëre geslagte ook baie meer gemeenskaps-geöriënteerd was en moontlik nie die bande met die wat heengegaan het sommer as afgesny beskou het nie. Die familie-eenheid, dink ek, is baie meer gevoel as vandag, al was sommige al oorlede. Dis eers in ons (modernistiese) tyd dat die individu so losgeraak het van sy groep soos ons dit ken. Dis onmoontlik om te sê presies hoe hulle die afgestorwenes beleef het (en dit het sekerlik baie gewissel), maar dat die afgestorwenes ‘n groter realiteit in hulle lewens was as vir ons, kan ons maar aanvaar. Daar is ook
(3) ‘n psigologiese rede vir sulke denke: Het ons nie ook soms die behoefte dat pa of ma net weer hier kan wees om ons te help nie? Mis ons hulle nie dikwels nie? Ons het dan so veilig gevoel by hulle en moet nou alleen regkom… Is pa nie maar hier naby om my te help nie?
Ons sien iets daarvan ook in die volgende voorbeelde:
Die meelewing van die afgestorwenes is ook ‘n gedagte wat in die Nuwe Testament voorkom en ek dink veral hier aan Heb 12:1:
Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop...
Die “skare (letterlik “wolk”) geloofsgetuies” is die geloofshelde wat die Hebreërskrywer net in die vorige hoofstuk (hfst 11) gelys het. Hy impliseer (in hfst 12) dat hulle nou soos ‘n skare op ‘n pawiljoen om ons is en ons, wat die wedloop met volharding moet hardloop, aanmoedig. Ek dink die gedagte is ‘n sterk, bemoedigende een vir diegene wat sukkel en dat iets daarvan vroeër letterlik gevat is – sal daarheen terugkeer. Ek sien presies dieselfde gedagte ook by:
Is die dooies om ons?
Ek dink nie so nie. Die bg. vers (Heb 12:1) sê nie vir ons dat hulle letterlik of fisies (alhoewel onsigbaar) om ons is nie. Dit sê wel dat die wat ons vooruitgegaan tans oorwinnend by God leef, dat hulle in beginsel vir ons is en wil dat ons ook wen. Dit sê eintlik dat ons moet kennis neem dat ons deel uitmaak van so ‘n deurlugtige geselskap en dat dit ons moet aanspoor en motiveer om so moedig soos hulle te wees. Ons moet leef asof hulle vir ons kyk. Hulle is deel van ons geskiedenis, van ons storie, ja van dieselfde geloofsgemeenskap. Ja, ons is een kerk en een familie. Ja, ons gaan op ons eie aan – soos hulle ook moes – maar hulle voorbeeld inspireer ons. En ja, ons sal weer met hulle verenig. Maar ek dink die goeie onderskeiding is dat die gelowiges by die Here is en ons vandaar aanmoedig (en vir ons bid), nie hier onsigbaar langs ons nie. Hulle is nie hier nie, maar daar. Hulle is nie spokerig langs ons nie en ons kan nie hulle stem hoor en met hulle praat nie. Trouens, ons word verbied om met hulle kontak te soek. Dan weet ons ook glad nie hoe bewus hulle van ons daar by die Here is nie – die Skrif sê nie. Ons kan maar net spekuleer wat hulle daar by die Here weet of nie weet nie.
Wat betref geeste wat nie rus kry nie: daar is geen harde bewyse nie, maar nou ja, snaakse goed gebeur. Van daardie dinge weet ons min – ook die sg kenners! Daar is ‘n algemene gevoel dat die siel wat nie reg is om te vertrek nie op die aarde vashaak. Die Bybel leer ons niks hieroor nie, behalwe om te sê ons moet radikaal wegbly van alle mediumisme, magie of voorspelling. Enige-iets verder hieroor is suiwer spekulasie en ook van die punt af.
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur