Kersfees #2:
Moet ek Kersfees vier – is dit nie ‘n heidense fees nie?
Die kort antwoorde is ja, as jy wil en nee. Maar lees die volgende gerus (of as jy nie 'n lees-tipe is, skip na die einde...!):
Daar word soms deur welmenende Christene gesê dat Kersfees eintlik maar ‘n heidense fees is, of dat die Roomse Kerk die ou Babiloniese godsdiens in ‘n ander gedaante is. Ek glo dit nie eintlik nie. Let op die volgende asb.:
Die datum van Kersfees, 25 Desember, is nie noodwendig afgelei vanuit enige heidense fees (hetsy Saturnalia of Sol Invictus) nie. Die geskrifte van die Vroeë Kerk ken nie so ‘n teorie nie. Die Kerk het die datum geleidelik aanvaar, heel moontlik op grond van die berekenings rondom die datum van die Aankondiging aan Maria. Ook Kardinaal Ratzinger (tans Pous Benedictus XVI) het dit duidelik gemaak dat Kersfees se datum uit die Annunciation afgelei is. Die teorie dat die datum staan op ‘n Romeinse fees is van veel later oorsprong, nl. vanaf die 18de eeu (alhoewel, lyk my, daar ook een verwysing uit die 13de eeu is). Bewyse daarvoor is baie skraps en die afleiding is gebaseer op ‘n meer onlangse verstaan van wat kon gebeur het. Winterfeeste van die Romeine en ander Europese nasies kon egter wel op indirekte wyse met die vasstelling van die datum gehelp het, bv. deurdat die kerk dalk gevoel het dis gepas dat hulle ook ‘n groot winterfees het, ens.
Die kerk het inderdaad op baie plekke, veral in Engeland en Duitsland, heidense feeste en gebruike afgeskaf en vervang met Christelike feeste en gebruike. Dit was hulle manier om te “evangeliseer” en ‘n einde te maak aan heidende praktyke. So het hulle te werk gegaan met heelwat heidense gebruike – dit is dikwels verchristelik en geïnkorporeer. Dit het natuurlik “gewerk”, maar ‘n prys in vervlakking is betaal. Sommige gebruike het net aangegaan, maar onder ‘n Christelike gedaante. So het sekere eeue-oue gebruike na die Christelike Kersfees oorgedra. Al die Europese nasies het ‘n fees gehad na die winter-sonstilstand, want hulle winters was straf en hulle was bly dat die dae nou weer langer sou word. Die kerk het sommige gebruike aanvanklik teengestaan, maar later is die gebruike ook ge-“evangeliseer” en het dit Christelike betekenis gekry. Die datum is dus heel moontlik NIE so oorgeneem nie, maar die volgende gebruike is heel moontlik wel oorgeneem:
Ek deel oor die Kerstradisie wat nie eintlik ‘n heidense konnotasie het nie in ‘n volgende artikel, bv. die Kerksboom (ja), Kersvader, ens.
Hulle manier om gebruike te bekeer was nie net sleg nie
Ons moet onsself regtig vra of ons ooit vandag Christene sou gewees het as daar nie ‘n 1000e jaar Christelike kultuur in Europa gevestig is (op hierdie wyse) nie, al was dit dan nou hoe vlak. Dit is op daardie algemene kultuur dat daar Hervorming en Herlewing kon plaasvind, wat daartoe gelei het dat ons vandag Christene is. Vanuit daardie kultuur is die hele wêreld al (feitlik) aan Christus bekendgestel. Vanuit ons standpunt sou ons hulle gebruik kon afskiet, maar in missiologiese kringe tot vandag is dit steeds ‘n geldige benadering om ‘n vreemde kultuur te benader vir aansluitingspunte en dan daarvandaan die Here aan hulle bekend te stel. Paulus doen presies dieselfde as hy aan die Atheners sê dat hy “Die Onbekende God”, van wie hy ‘n altaar in die stad gesien het, aan hulle kom bekend stel. Hy sou mos duidelik kon sê dat die ware God en hulle konsep van nog-‘n-god-tussen-al-die-ander glad nie versoenbaar is nie, en ‘n ander benadering volg, deur bv. te vertel van die God van die Jode. Hy knoop egter eerder by hulle aan waar hulle is. ‘n Hedendaagse voorbeeld is Amerikaanse kerke wat op Halloween ‘n “alternatief” aanbied vir die jeug by die kerk. Mens sou dus kon sê daardie “alternatiewe” byeenkomste is verkeerd want dit is op ‘n dag wat volgens hulle aan die duiwel gewy – nee, hulle vat die dag en verander dit na iets beter.
Bedoel ons regtig om afgode te aanbid?
Daar is ook ‘n vraag te vra of die oorspronge van ‘n saak die bedoelde betekenis daarvan enigsens nog beïnvloed? M.a.w. as die oorsprong van iets 2000 jaar gelede in die heidendom lê is ons steeds besig met heidendom as ons dit doen? Dit is ‘n baie wesenlik vraag en die antwoord is “nee”. Ek gee ‘n paar voorbeelde:
Die punt is dit: ons vier wat ons bedoel om te vier. Kersfees is nou al minstens 1500 jaar ‘n christelike fees, ten volle gewy aan die geboorte van Jesus Christus. Elke element daarvan, van die geskenke tot die boom is vir ons ‘n simbool wat na die Here wys.
So, moet ons Kersfees vier?
My antwoord is dus ja, as jy wil. Niemand sê jy MOET nie. Maar die heidense oorspronge van sekere elemente hoef nie in jou pad te staan nie. Jy kan dit uithaal as jy wil. Ek deel oor hoe ons Kersfees kan vier as kind van die Here in ‘n aparte artikel. Kersfees het na alles ‘n geweldige getuieniskrag, ten spyte van die vervlakking en misbruik, want die hele wêreld weet (tot in Japan, ens.) dat dit oor die geboorte van Jesus gaan. Sou die Christene ophou om Kersfees te vier, sal dit vir die vyand ‘n groot oorwinning wees. Ek dink persoonlik nie ons moet toelaat dat hy dit by ons steel nie. Ons moet eerder aanhou om die wêreld te wys waaroor dit regtig gaan.
Sien ook:
Is die 25ste Desember werklik Jesus se geboortedag of waar kom dit ...
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur