Kersfees #3: Hoe moet ek Kersfees vier as kind van die Here?
Wat van ‘n kersboom, kersvader, kersliedere en sulke dinge?
Ons het reeds daarop gewys dat Kersfees ‘n fees is wat deur die Kerk gevier word om die geboorte van Jesus te herdenk. Dit is ‘n Christelike fees en dit verkondig Jesus aan die hele wêreld. In sy ontwikkeling het die fees sekere gebruike oorgeneem wat uit heidense feeste kom, maar dit is van ‘n Christelike simboliek voorsien, en dit maak Kersfees nie ‘n heidense fees nie. Dit is soos kultuur ontwikkel en daar is baie aspekte van ons alledaagse lewe wat teruggaan na die heidense tye toe. Kersfees ontwikkel steeds, en die volgende is daarvan voorbeelde:
Die gebruik van die kersboom is omtrent 400 jaar oud en het in Duitsland ontstaan. Mense het dennebome versier met versierings, lekkergoed en kerse. Voor dit was dit nie deel van enige Kersfeeste nie. Daar word soms aanvaar dat om ‘n boom af te kap en te versier ‘n heidense gebruik is (en kersbome is op ‘n tyd verbied), maar daar is geen getuienis dat die heidene so ‘n boom in hul huise gehad het nie, alhoewel hulle almal 1300 jaar voor dit groen takke in hulle huise gebring het en versier het in hul winterfeeste. Daar is dus ‘n ooreenkoms, maar navorsing hieroor vind net eenvoudig geen bewys dat dit die rede was waarom Christene 13 eeue later kersbome versier het nie. Die mense wat dit gedoen het se agtergrond was deur en deur Christelik, selfs protestants – nie heidens nie. Daar is ‘n gerug dat Martin Luther die eerste kersboom versier het, maar dit blyk ‘n suiwer legende te wees. Dit is eerder waarskynlik dat die kersboom die gevolg is van die “paradysboom” wat hulle gebruik het in die Middeleeue om Adam en Eva se sonde uit te beeld. Die 24ste Des is die dag waarop Adam en Eva gedenk is, en die boom het in hulle paradys-spel gefigureer: ‘n denneboom met appels. Op die 24ste is ‘n Kers-kers (!) ook aangesteek as Christuslig – deel van hul kersvieringe. Dis moontlik dat hierdie twee gebruike aanleiding gegee het tot die kersboom soos ons dit ken. In die 18de eeu is die kersboom na Amerika geneem deur Duitse immigrante en in die 19de eeu het koningin Victoria dit na Engeland gebring. Eers vroeg in die vorige eeu het dit wêreldwyd ‘n deel van Kersfees geword. Terloops, Jer 10 het niks met ‘n kersboom te doen nie, dit gaan in die hele gedeelte(vv1-16) oor die maak van afgode.
“Kersvader” se oorsprong is eintlik heel Christelik. St. Nikolaas van Myra (4de eeu) was bekend dat hy geskenke gegee het, o.a. genoeg geld dat drie susters kon trou (en gered is van prostitusie). St Nikolaas het regoor Europa met Kersfees geassosiseer geraak en as “Sinterklaas” (in Holland) geskenke gebring vir soet kinders. Dit het op 6 Desember (St Nikolaas se feesdag) gebeur – die 25ste self is tot vandag in Holland ‘n meer geestelike of kerklike viering. Sinterklaas word in Holland uitgebeeld met biskopklere, ‘n rooi mantel, myter (die biskop se punt-hoed) en ‘n goue staf. Via die Hollanders het “Santa Claus” in Amerika posgevat en daar het Santa die laaste hoogstens 200 jaar sy eie lewe gekry deur al die mites wat rondom hom geskep is. Daar is spekulasie dat van die besonderhede oor Santa ook vanuit die germaanse heidendom kom, omdat Odin ook op ‘n slee gery, mense se huise besoek het en dat kinders strooi, ens. vir sy rendiere neergesit het. Daar is egter geen direkte oorsprong nie – dis asof die stories deurmekaar geraak het. Die hedendaagse Vader Kersfees is eintlik ‘n redelik moderne figuur.
Kersliedere is reeds vanaf die begin in die kerke gesing, maar die Christmas carols wat ons ken, kom dikwels uit die Middeleeue – vandaar hulle besondere gevoel. John Wesley het ook ‘n paar geskryf. ‘n Mooi gebruik. Die meer onlangses gaan natuurlik oor ‘n wit kersfees, rendiere met rooi neuse, en die klokkies wat so aan die slee jingle… ai.
Kerskaarte is so ‘n paar honderd jaar oud en is in ons eeu al weer aan die verbygaan.
Dan hetdaar in elke land natuurlik spesifieke kerstradisies ontwikkel.
Die groot hartseer is nie enige heidense oorsprong nie
Die groot verandering en hartseer rondom Kersfees is nie die bekommernis dat sekere elemente daarvan uit die voorchristelike tyd kom nie, maar die feit dat Kersfees vandag so gesekulariseer en gekommersialiseer geraak het. Wat beteken dit? Kersfees het populêr geraak oor die hele wêreld. Dit word op ‘n manier gevier deur meer nie-Christene as Christene. Hulle maak dit los van die geboorte van Christus en beklemtoon eerder ander inhoude: dit is ‘n tyd vir die gesin, vir welwillendheid, ens. ‘n Time for giving… (wat eintlik beteken: ‘n time for shopping). Hulle verander sommer die naam na die silly season, of happy holidays… Die meeste beskou dit bloot as ‘n tyd vir vakansie en partytjies hou. Selfs nie-Christelike lande soos Japan vier Kersfees meer en meer omdat dit gesien word as deel van die Weste – dit gaan daar egter net oor ‘n kersboom, kersvader, geskenke en liggies en versierings. Dis al en om eerlik te wees, dit is mos presies soos dit deur die meeste in Westerse lande ook gevier word. Dan word Kersfees vandag gedryf deur die sake-sektor, vir wie dit die mees profytlike tyd van die jaar is. Hulle eie kragtige boodskap is dat Kersfees vernaamlik oor twee dinge gaan: geskenke vir almal en dan die groot etes en partytjies. Vir beide moet die winkels natuurlik besoek word... Volgens my is hierdie “wêreldse Kersfees” die groot gevaar vir Christene. ‘n Kersfees maar geen Christusfees nie. Koos van der Merwe skryf dit so:
kersfees
liggies brand op elke straat
en die mense word vir niemand kwaad
want dis kersfees in ons stad
tienduisend vader krismisse
is nat gesweet in hul sneeumusse
want dis kersfees in ons stad
'n honderd winkels in 'n ry
is almal innig lief vir my
en my geldvriend sal my help betaal
en wie moet ek bedank
as ek vir iemand 'n present kan koop
bier kan drink tot die trane loop
of jou lekker lyf
my liefiewyf
kan druk as ons dans
o, 'n katjie
of 'n hondjie
of 'n ringetjie vir jou
my dingetjie vir jou
selfmoord anoniem
se skof is nou van tien tot tien
want geld kan nooit die liefde koop
en partytjies moet ten einde loop
liggies brand op straat
en die mense word vir niemand kwaad
want dis kersfees in ons stad
spaar my
here
spaar my
spaar my nog 'n kersfees
sonder u
Moet ons Kersfees vier? Jy hoef natuurlik nie Kersfees te vier nie. Dit is nie verpligtend nie. Sommige het opgehou. Maar gegewe die kultuur waarin ons nou eenmaal is en die potensiaal wat Kersfees steeds het om te getuig – selfs in die mees sekulêre setting sing kersliedere steeds van Jesus en beeld kerskaartjies steeds ‘n stal en ‘n krip uit – sou ek nie wou dat Kersfees afgeskaf word nie. Die boodskap is te kragtig – die Verlosser word in ‘n stal gebore, vir ons. Wat ‘n ongelooflike (gelooflike) konsep. Wat betref die heidense oorspronge van sekere Kersfeesgebruike: persoonlik voel ek dat die gebruike met Kersfees al vir soveel eeue ge-sanitize en ge-christianize is dat ons dit kan gebruik – daar is absoluut geen rekolleksie van heidense gebruike daarmee saam nie, en ook geen so ‘n bedoeling nie. Daar is diegene wat teen die vervlakking reageer en sê as Kersfees dan so wêrelds geraak het, dan moet die Christene ophou om Kersfees te vier. Maar dis die verkeerde redenasie. Mens kan nie dit wat kosbaar is maar vir die duiwel gee nie. My opinie is dus duidelik: vier Kersfees, maar vier dit reg.
TUSSEN HAKIES, MAAR BELANGRIK:
My gevoel is dat sommige se probleem met Kersfees op ‘n ander vlak lê as die bg. redenasies:
Ja, vier Kersfees reg
Maak keuses. Jy hoef nie alles te doen wat die wêreld doen nie. Die volgende is voorbeelde:
1) Vir diegene wat daarmee ‘n probleem het (en as jy iets nie met geloof kan doen nie, is dit sonde, sê Paulus), sou ek sê sny dan uit wat vir jou heidense konnotasies het. Ek het klaar gesê wat ek hieroor wou sê. Onthou egter dat Paulus ook oor sulke dinge sê dat ons nie mekaar moet veroordeel nie – Rom 14.
2) Oor Vader Kersfees wat so vrolik is, wil ek iets sê. Vir so vroom as wat St Nicholaas was, het die moderne Kersvader-figuur ongelukkig Jesus se plek te veel kom inneem. Kinders glo dat Kersfees oor Kersvader gaan wat geskenke bring en dit is verkeerd: Kersfees gaan oor Jesus, die geskenk wat God vir ons gebring het. Ek het ‘n probleem daarmee, en laat persoonlik die jolly oom maar verbygaan – daar is nêrens ‘n Kersvader in my huis nie. Ek is nie fanaties daaroor nie, maar hy feature net nie hoog by ons nie. Maar dis jou saak.
3) Die gevaar van Kersfees is die belaglike kommersialisering en misbruik. Die vervlakking, die partytjies en gedrink. Daar is amptelike organisasies aan die gang vanuit Christelike oorde om net ‘n streep daaronder te trek. “Buy Nothing Christmas” van Kanada se boodskap is bv. om niks vir Kersfees te koop nie, maar uit jou oorvloed te gee. Besluit ten minste die volgende:
Smaakvol, eenvoudig, geestelik, verantwoordelik – dit is hoe ek dit sal opsom.
En dan baie belangrik: word ‘n agent. Versprei die woord in jou eie optrede, in jou gesprekke , op vergaderings: JESUS IS THE REASON FOR THE SEASON. Ja, dit kan ongelowiges nogal irriteer, maar dis die waarheid. Hou aan om die regte waardes rondom Kersfees te praat en te leef.
Kom ons gebruik die seisoen om die Here te eer.
Bronne:
http://www.orlutheran.com/html/chrtree.html
http://www.orlutheran.com/html/santa.html
http://www.buynothingchristmas.org/
Sien ook:
Is die 25ste Desember werklik Jesus se geboortedag of waar kom dit ...
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur