Jimi  le Roux

spiritual coaching | life coaching

Ek vier Lydenstyd.

Paasfees - die jaarlikse herdenking van die kruis van Jesus - is die eerste fees wat Christene gevier het en bly die belangrikste fees.  Die kruis van Jesus is immers in die middel van alles - dink daaraan...  Mettertyd het die kerk 'n voorbereidingstyd begin hou voor Paasfees, wat oor honderde jare gegroei het tot 'n vaste tyd van 40 dae voor Paassondag.  Die 40 dae sluit die Sondae uit en begin altyd op 'n Woensdag, wat genoem word Aswoensdag. Van Aswoensdag tot Paasfees word genoem Lydenstyd (of Vaste, in Engels Lent) en hierdie tyd word tradisioneel op 'n sekere manier gevier.  Ek het persoonlik (soos meeste van ons) niks van hierdie goed geweet of trouens in geglo nie, en dit is eers die laaste paar jaar dat ek geestelik met groter ritmes leef.  Ek kom agter dit is goed vir my geestelike lewe om in daaglikse, weeklikse en jaarlikse ritmes te wees.  Dit hou my by die belangrike dinge en stuur my weg van die willekeur van 'n "geestelike" lewe wat net oor my eie voordeel, behoeftes en impulse gaan.  Ek hou dus Lydenstyd al vir 'n paar jaar en vind dit is geestelik vir my die vrugbaarste tyd.  Natuurlik is dit nie noodsaaklike of verpligte dinge nie, dit is geen wet nie en die Bybel skryf dit nie voor nie. Dit is egter nuttig en opbouend.  In ooreenstemming met die Christelike gebruik vier ek Lydenstyd soos volg (wat nie naastenby die omvang is waarmee dit in die ou kerke gevoer word nie):

 

1. Lydenstyd is 'n vastyd. 

Die 40 dae slaan op Jesus se vas van 40 dae in die woestyn en ons vas is 'n simboliese meeleef met Hom in sy versoekings, sy verwerping en sy lyding.  Dit bly net 'n simbool, 'n teken - geen meriete nie.  Ek vas dus saam met die kerk van luukses soos lekkergoed en sjokolade, koffie, wyn, ens.  Ek vas ook een dag in die week 'n 24 uur vas, gewoonlik op 'n Donderdag.  Sondae is van die vas uitgesluit - halleluja...

 

2. Lydenstyd is gebedstyd. 

Dit is 'n tyd om meer God se teenwoordigheid en wil te soek en dit moet mens maar doen soos jou dag jou toelaat.  My selfoon is steeds gestel op die daaglikse gebedsure, en dit help.  Die trant van die gebed is nederig en ondersoekend en die Here kan maar inspreek in wat nie reg is nie.  Dit gaan oor verootmoediging.  Ek journal nogal baie in hierdie tyd en het laas jaar baie gedigte en gebede geskryf.

 

3. Lydenstyd is dienstyd. 

Die doel is om meer liefde en welsyn te bewys en uit te reik.  DIt doen ek maar soos die geleenthede sig voordoen.  As ek iemand normaalweg dalk sou wegwys (mens kan net soveel keer per dag gee), dink ek ai, dis lydenstyd en soek dan maar vir iets om te gee.  Ek vermoed my benadering is nog maar baie effentjies.

 

Ja, so dis wat ek doen in Lydenstyd.  Die hele periode gaan oor in Lydensweek - die week voor Paasnaweek en die hoogtepunte is natuurlik die Diens van Duisternis (Tenebrae) op Donderdag, Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag.  Die Here het opgestaan!

As jy wil deelneem, sal jy ook ervaar dat die Here in hierdie hele tyd vir jou naby is.

Views: 284

Antwoord hierop

© 2012   Created by Jimi le Roux.   Aangedryf deur

Jimi le Roux-wapens  |  Report an Issue  |  Terms of Service