THE TWO BABYLONS
Deur Alexander Hislop (1835)
Hierdie boek, wat op my rak staan (!), word deur sommige Christene aangehaal as bewys dat die Roomse Kerk niks anders is nie as die herlewing van ‘n Babiloniese misterie-godsdiens, dat die Madonna die herlewing is van die godin Semiramis (en dat baie Roomse praktyke heidense oorspronge het), dat Paasfees, Kersfees, ens. ook eintlik heidense praktyke is wat bewustelik deur die Katolieke Kerk herleef is. In daardie sin raak dit ook ons Protestante wat Paasfees, Kersfees, ens. hou.
MY MITE OOR HIERDIE MITES IS...
Die boek word egter deur historici en godsdienswetenskaplikes afgewys. Wat die goeie Rev Hislop doen is om die mitologieë van die wêreld te ondersoek en verbande raak te sien. Hy sien soveel verbande dat hy begin aflei die een het die ander veroorsaak en uiteindelik dat alles een mitologie is. Nimrod is Adonis, maar ook Apollo, Attes, Baal-sebub, Bachus, Cupido, Dagon, Herkules, Janus, Linus, Lucifer, Mars, Merodach, Mithra, Molog, Narcissus, Oannes, Oden, Orion, Osiris, Pluto, Saturnus, Titan, Typhon, Vulcanus, Wodin en Zoroaster. Sy konsort/vrou Semiramis is ook bekend as Afrodite, Artemis, Astarte, Aurora, Bellona, Ceres, Diana, Eostre, Irene, Iris, Juno, Mylitta, Proserpine, Rhea, Venus en Vesta. Die probleem is net dat niks hiervan bewysbaar is nie, en dat Hislop doodeenvoudig sy eie mitologie skep, en ons word gedwing om dit te glo – of ons is erg ongeestelik. Die feit dat daar ‘n ooreenkoms is, beteken egter nie ‘n oorsaaklike ooreenkoms nie. Wat van psigologiese oorsake (argetipes, ens.) wat moontlik agter die afgode en ooreenkomste tussen hulle lê? Wat m.a.w. in die primitiewe mens se psige lei hom om vir hom sulke gode te versamel? Sy afleidings en spekulasies is bloot interessant, en nie die “bewys” van iets nie.
WETENSKAPLIKHEID
Daar is egter ‘n groot probleem met die wetenskaplikheid (oftewel akkuraatheid, betroubaarheid en geldigheid) van sy hele projek. Sy kritici, en dit sluit diegene in wat sy bronne bestudeer het, beskuldig hom van valse aannames, selektiewe aanhalings, verbeeldingryke konneksies en ‘n kreatiewe omgang met die geskiedenis. Die onakkuraathede is te veel om op te noem . Hy vertrek nie om ‘n objektiewe ondersoek te doen nie, maar om te wys dat die Roomse Kerk die hedendaagse Babilon-godsdiens is. In die proses gebruik hy dan die bg. onwetenskaplike metodes en laat dan ook alles uit wat daarteen sou tel, bv. dat (1) volgens dieselfde argument ook die gedagte van die Triniteit, die Sondagvoering, ens. uit en uit heidens is, of (2) dat die Joodse geloof – soos bv. Jesus dit beoefen het – ook ooreenkomste toon met die (voorafgaande) heidendom bv. die wet, offerstelsel, besnydenis, uitleg van die tempel, wierook, ewige vlam, rein/onrein, ens. Al hierdie het ander al voor hulle gedoen. Is die Jodendom dus eintlik heidens? Duidelik nie.
'N GROOT KOMPLOT
Ek is ook nie iemand wat geneig is te val vir die hele groot komplot-gedagte nie. Ek sukkel om die conspiracy theories te glo. Te veel geleerdes moet omgepraat of omgekoop word om te sê dat AIDS bestaan, dat daar ‘n Joodse volksmoord was, of dat daar werklik globale verwarming bestaan. Hulle weet almal dit is nie so nie, maar die internasionale bankiers maak geld daaruit, en hulle salarisse hang daarvan af. Duisende mense hou die geheim en die media kom nooit agter die kap van die byl nie – behalwe die conspiracy theorists wat dit op hul websites uitlek. Ek sê dis so onwaarskynlik dat ek my nie eintlik verder daaraan hoef te steur nie. Dieselfde hiermee. Mens moet daaraan dink dat as 99% van kundiges een opinie huldig, daar dalk meriete in steek. Mens raak so moeg vir die gedagte dat al die predikante aan hulle neus rondgelei word (want hulle is mos onkundig en dan ook nog so ongeestelik), of nog erger: hulle weet wat hulle verkondig is onsin, maar hou daarmee aan ter wille van die salaris (shame, op hulle salarisse….). Nee, vertel dit aan iemand anders. Inteendeel, my ondervinding is dat die kindertjies van Liewe Jesus (en ek is ook een) baie liggelowig is en baie maklik glo enige iets wat per internet versprei word. Ek glo nie wat The Two Babylons leer nie.
Ek glo wel dat die Katolieke Kerk in twee duisend jaar se geskiedenis allerhande draaie geloop het en dat Hervorming nodig was. Maar ek weet ook dat die Roomse Kerk se geskiedenis en dogmas bekend en oop is vir almal om te lees en te verstaan. Laat daar dus rustige debat wees oor die Skrif, tradisie, teologie en die geskiedenis. Daar is steeds baie wat ons saambind. Opinies is dikwels uit onkunde. En dikwels word die baba met die badwater uitgegooi. Met hierdie boek word nie net die badwater en die baba nie, maar sommer die hele bad ook uitgegooi.
SKAKELS
Lees die volgende skakels oor hierdie boek vir meer detail inligting:
Ralph Woodrow was eers ‘n ondersteuner van Hislop se stellings en het boeke daaroor geskryf, maar het sy standpunt verander en is nou daarteen. Hierdie is sy eie opsomming:
http://journal.equip.org/articles/a-summary-critique-the-two-babylo...
‘n Antwoord vanuit Katolieke oord:
http://homepages.paradise.net.nz/mischedj/ct_babylon.html
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur