Jimi  le Roux

spiritual coaching | life coaching

Laat ek net eers sê dat ek in ‘n huis groot geword het waarin ek baie genesings gesien het in antwoord op gebed.  My pa was werklik ‘n man van God met ‘n bekende bediening van genesing.  Hy het nie eintlik dit beskryf as “geloofsgenesing” nie, maar as “Goddelike genesing”.  Hy wou nie dat die mense dink dis hulle geloof, of sy geloof wat die genesing bewerk (of laat misluk) nie, alhoewel geloof natuurlik ‘n rol speel.  Dit is geen oordrywing nie as ek sê dat ek in daardie herlewingsjare in Parow honderde en honderde mense sien gesond word het.  Ek glo dus 100% in wat God kan doen – en ek is nie ‘n vreeslike emosionele of goedgelowige persoon nie! 

 

Natuurlik het ek ook baie mense gesien wat nie genees word nie.  Ek dink so daaroor:

·         In beginsel is God se krag daar en kan ons bid vir genesing, soos die Woord ook sê in Jak 5.  Ons lê die hande op en bid – ons kan ook met olie salf, soos dit daar lees.

·         Geloof speel ‘n rol en dit kan dalk die geloof wees van die bidder, die sieke, die omstanders (soos ons ook in die Bybel sien), ens.  Ja, wonders sal gebeur.

·         Ons kan egter nie sê dit is as gevolg van die sieke se ongeloof dat hy nie genees is nie, want ons sien ook soms dat die opregte Christen wat baie “hard glo” (hoe dit ook al verstaan kan word) dikwels nie genees word nie, en dan kom ‘n ongelowige van die straat in en word genees.

·         Die “hype” waarmee “groot” geloofsgenesers dikwels optree (bv. op TV) en die groot geloofsuitsprake wat hulle maak (bv. jy is gesond, die Here wil jou vandag genees, die Here sal jou genees as jy net glo) is m.i. te betwyfel, selfs wreed.  So ook om te moet bely dat jy gesond is as jy nie is nie – ons ondervinding was dat jy weet of jy genees is of nie.  Jou dokter sal dit aan jou kan bevestig.  Jy hoef nie te wonder nie.  As jy dan nie genees is nie, bly jy gelowig en bid voort.

·         Jesus het nie almal gesond gemaak nie – alhoewel Hy by geleenthede baie genees het (of almal wat daar was).  Die rede vir sy genesings is in die Nuwe Testament om sy almag te betoon, en om te bewys dat die Koninkryk van God gekom het.  Die evangelie van Johannes vermeld net sewe “tekens”.

·         Paulus was self nie te gesond nie, Timoteus was siek en Trofimus is iewers siek agtergelaat.  Sekerlik het Paulus vir hulle almal gebid en hy was ‘n man wat kragtige wonders afgebid het.

·         (So tussen hakies –met my pa se groot gebedsbediening was my ma altyd, altyd baie siek, al het elke groot voorbidder in die land, en baie wat SA kom besoek het, ook vir haar gebid.  Na my pa se dood het sy “vansself” baie beter geword??)

·         Die “spiritual technology” waarna ons so soek werk meestal nie uit nie – m.a.w. die HOE ek moet bid dat dit WERK.  Moet ek net eers bely en dan verkry, moet ek net hard IN DIE NAAM VAN JESUS sê as ek gebid het, HOE moet ek bid?  Baie boeke is al hieroor geskryf, en preke gepreek, maar as ons sulke tools soek, verstaan ons verkeerd want dan wil ons gebed gebruik as ‘n middel om enige-iets te bekom.  Ons dink dit is ‘n instrument, ‘n meganika wat ons net moet uitpluis, dan sal dit vir ons werk.  Gebed is kommunikasie met God.  Gebed is verhouding met God.  Geen gebed kan iemand genees nie.  God kan iemand genees. En God is God.  Dit is Job se pynlike les.

·         Ons moet wegkom van die volgende as dit kom by gebedsverhoring en genesing:

o   dat om “in die Naam van Jesus” te vra, beteken dat ek alles kan kry wat ek vra.  Om “in die Naam van Jesus” te vra is om “namens Jesus” te vra.  Om te vra wat Hy sou vra.  Dit is oop vir interpretasie as dit by siekte kom, maar dit beteken al reeds nie dat hierdie ‘n formule is vir my eie voordele en voorregte nie.  Dit is gesag wat God ons gee om vir sy Koninkryk se voordeel te bid.  Daarom bid ons in die Naam van Jesus, maar dink nie dit is towerwoorde nie – dit is ons oop deur en toegang tot die troon van God, wat soewerein sal besluit.

o   Ons moet ook wegkom van die idee dat ons woorde lewende krag het soos God se woorde.  Die Bybel leer dit nie, en ons sien nie Paulus en Petrus dit so gebruik nie.  Woorde is baie belangrik maar dis nie towerwoorde nie: as ons net die regte woorde gebruik sal dit gebeur, as ons dit net reg sê, bely, of wat ook al sal die realiteit by ons woorde aanpas.  What you say is not always what you get.  Om te weier om te sê “as dit u wil is” want dit sou my twyfel uitspreek is om staat te maak op my woorde want God ken tog reeds my hart en al sy angs en vertwyfeling.  Dan is ons in elk geval christeliker as Christus wat self so gebid het en ons geleer het om so te bid.

o   Ons moet ook wegkom van die gedagte dat die duiwel, of ‘n bose gees, verantwoordelik is vir al my probleme.  As ons dit dan net bestraf sal die probleem weggaan.  Nee, die waarheid van demoniese bindings kom in by betrokkenheid aan die okkulte, Satanisme e.d.m.

Let op dat daar verse vir al die bg. in die Bybel is, en op die regte manier gesien is dit natuurlik alles waar, maar as ons die groter prentjie sien, besef ons dat ons dat die een waarheid die ander moet aanvul.  Die proof of the pudding is doodgewoon in die sukses van die toepassing daarvan en mense soos ons wat uit daardie wêreld kom en dit goed ken het oor jare gesien dat die bg. tools en metodes baie baie selde werk en dikwels meer kwaad as goed doen.  Dit werk nie omdat dit doodgewoon nie werklik Bybelse benaderings is nie.  Omdat ons hoop op genesing glo ons later enige-iets.

·         Ons teologie moet reg wees:  die motief by genesings is nie omdat ons dink God is daar om elke mens gemaklik, gesond en gelukkig te hou nie.  Siekte, pyn, teëspoed en ellende is deel van die wêreld waarin ons leef, en die Here gryp nie by al hierdie dinge in nie.  God se wil om ons volmaak te kry is gemik op die Eendag, en tot dan leef ons ‘n lewe wat beide vreugde en smart inhou, voorspoed en teëspoed, ens.  Die Here help ons dikwels deur omstandighede te verander, maar ook dikwels deur ons in ons omstandighede te verander.  Hy is altyd by ons in ons omstandighede.  Die Koninkryk het gekom met Jesus maar is ook steeds besig om te kom en sal eers volkome gekom het as die ewigheid aanbreek, en eers dan sal ons waarlik sonder pyn en lyding wees.

 

Daar bly dus ‘n misterie rondom die hele saak en dit is vir ons onmoontlik om God te verstaan of te voorspel soos ons so graag wil.  Ons kan doodgewoon in geloof en verwagting na Hom toe gaan in groot afhanklikheid en vir hom daarvoor vra.  Ons wag op Hom vir genesing want Hy is ons Vader.  Ons weet Hy is almagtig en liefdevol en bly dit bely.  Mag Hy jou genees!  As ons egter niks beleef nie, bly ons gelowig en hoopvol en vertrou Hom en dank Hom vir sy teenwoordigheid en liefde.  Dit is nie jou skuld dat jy nie gesond geword het nie. 

 

Gee in alle gevalle oor aan sy wil en rus in sy liefde. 

Baie baie sterkte

Views: 54

Antwoord hierop

© 2012   Created by Jimi le Roux.   Aangedryf deur

Jimi le Roux-wapens  |  Report an Issue  |  Terms of Service