Vraag:
Waarom sê jy dit is 'n geheim dat almal nie gesond word nie. Wil God dan nie almal genees (as ons vir genesing bid) nie?
Antwoord:
Die probleem is inderdaad dat nie almal op ons gebed (selfs van die mees gesalfde en kragtige voorbidder) gesond word nie. Ja, ons ervaring is dat sommige mense wat die meeste geloof het, of die Here vir jare getrou dien, nie gesond word nie, en dan kom daar sommer iemand van die straat af in en ontvang genesing. Daar is dus ‘n geheim rondom geloof en genesing, wat ons nie heeltemal verstaan nie. Dit is waarna ek verwys. Dis net ‘n feit.
Die vraag is of dit nie die Here se wil is dat ons almal genees word nie? Is Hy dan nie ‘n goeie God, wat die beste vir almal wil hê nie? Die antwoord is ja, maar dit is net ‘n gekwalifiseerde ja. Die populêre faith-perspektief sê eenvoudig ja, God wil almal gesond maak en as jy nie gesond word nie, is die rede jou ongeloof. Hulle kan egter nie noodwendig mense help om by ‘n genesingsgeloof uit te kom nie (en die leiers is self maar siek, en skei hul vroue!) Ek dink die beter manier om dit te verstaan is om ‘n onderskeiding te tref in God se wil:
Die feit is dat ons met hierdie dinge saamleef omdat ons nog op die aarde is. Op die aarde sal ons hierdie dinge (die “mot en roes”) ken. Ja, ons veg daarteen en ja, geloof is betrokke. Ja, ons leef reeds in oorwinning, maar solank ons op hierdie aarde is, sal ons ook die sonde en sy gevolge ken – en een daarvan is siekte en die dood. God het bepaal dat hierdie bedeling so sal wees. In die toekomstige bedeling maak Hy ‘n einde aan al hierdie dinge – ons wil egter die hemel nou al hê! So onderskei ons nie in watter bedeling ons leef nie. Ons stry huidiglik nog die stryd – die finale oorwinning lê nog voor. Ons sien dit ook met Jesus – Hy kies een by die Bad van Bethesda en een blinde by die tempel om te genees (sonder dat hulle eers vra) en die res laat Hy. Wil Hy nie hê hulle moet almal gesond word nie?
Ons gaan dus aan en bid vir mense – soos ons vir alle probleme en situasies bid. Ons beleef soms genesings en soms ook geen genesings nie, net soos met die ander dinge ook. Dinge is nie volmaak in ons lewe nie. Maar ons is op pad. En God is steeds met ons.
Tags:
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur