Hallo daar
Daar is verskillende soorte depressie:
· Reaktiewe depressie – hierdie soort depressie is “normaal” (te verwagte) en die gevolg van dinge wat gebeur het (eksterne faktore) : verlies, trauma, frustrasie, ens.
· Kliniese depressie is die gevolg van tekorte van breinoordragstowwe (veral serotonien) en reageer dikwels goed op SSRI’s (Selective Serotonin Reuptake Inhibitors) soos Prozac of ander middels
· Daar is ook die depressie wat die gevolg is van medisyne (as newe-effek) en ja, die negatiewe gevoelens wat die gevolg is van hormonale veranderinge (dalk nie depressie in die kliniese sin nie)
· Daar is ook depressie van ’n laer graad, vroeër distimie – ‘n lustelose, moedelose, tranerige gevoel wat oor maande net nie wil wyk nie (dokters skryf hiervoor ook SSRI’s voor)
Dan is daar ook ’n saak voor uit te maak om die verskynsel te beskryf sonder al die tegniese terme. Almal van ons ken moedeloosheid. Ons voel dinge gaan nêrens heen nie, verwagtinge realiseer nie, die hoop beskaam. Wat is die sin van alles? Waarheen gaan dit – hoe gaan dinge eindig? Sommige mense deel met soveel probleme en het soveel issues dat daar nie eintlik sprake is van joy in hulle lewe nie. ’n Gees van neerslagtigheid maak hom tuis in jou siel. Die Prediker is die Bybelboek wat hieroor deel – die skrywer Salomo (dikwels die sensitiewes en artistiekes onder ons wat so voel, nie waar nie?) is self depressief en vertel wat hom moedeloos maak. Die Bybel erken dus depressie as toestand en daar is nie die gedagte dat gelowiges nie depressief mag wees nie.
Daar is nog iets wat in ons wêreld gebeur: ons word hedendaags oorvloei met inligting en uitdagings. Ons kan nie alles hanteer nie – ons is net nie gemaak daarvoor nie. Die bombardering van ons brein met inligting lei tot ’n verhoogde staat van opwekking, en die brein pas daarby aan (habitueer). Dan het ons nog meer nodig om gestimuleer te word (soos verslawings werk). Die gevolg is dat mense vandag sukkel om werklik en diep te beleef, en ’n doodse gevoel ervaar. Alles moet meer en meer ekstreem word, anders kan jy dit nie meer beleef nie. Kinders sit voor die TV en huiswerk doen, i-pod in die een oor, selfoon teen die ander oor, en speel tussendeur op die laptop of chat met ’n vriend. Anders is hulle “bored”. Sielkundiges noem dit anhedonie – die onvermoë om te voel of te beleef. Doodsheid van binne. Ek weet nie of jy so iets beleef nie. Die volgende fase is uitbranding. Depressie het in ons geslag so toegeneem dat een uit vier mense daaraan ly – veral onder vroue (ook baie onder tienermeisies).
Ja natuurlik word jou geestelike lewe daardeur beïnvloed. Verwag om net nie lus te wees vir gebed, ens. nie. Om te voel niks is die moeite werd nie, God is afwesig, ens. Natuurlik is dit jou belewenis wat verander het, nie waar nie? Hy is steeds daar soos gister en eergister. Dis juis in ’n tyd soos die dat geestelike dissiplines – iets van ’n ritme in jou geestelike lewe – jou sal deurdra.
Hier is my advies:
· Probeer vasstel hoekom jy so voel (dis immers jou vraag in jou brief) – is dit chemies/hormonaal, of wat het gebeur of verander? Dink in die rigting van verhoudings en werk eerste
· Bid daaroor en journal jou gedagtes
· Gaan dokter of sielkundige toe en vra of jy kwalifiseer vir medikasie (hierdie tipe middels is baie veilig en is ook nie-verslawend [werk op ’n ander manier]). Dis ook geen skande nie.
· Aanvaar die fase van die lewe waarop jy is – probeer bepaal wat die doelwitte van hierdie fase is
· Besluit om klein dingetjies doelbewus te geniet: beleef die geurige bad, die rooi om ’n wolk se rand, die reuk van die vuur, sulke dinge
· Doen mooi dinge vir ander mense as dissipline: glimlag vir iemand, gee meer, dien meer
Daar is nie baie wat mens vir iemand kan sê wat regtig erg depressief is nie, maar een ding bly ’n waarheid: dit gaan weer oor. Dit is ‘n feit wat waar bly. Sien dit net deur. Groei daaruit – jy sal sterker anderkant uitkom.
Baie sterkte