Eers iets oor die algemeen oor ons kursusse...
Ek is nou eenmaal lief om kursusse uit te werk - dis deel van my bediening. Ek is al jare betrokke hierby, en geestelike opleiding was ook my voltydse werk by ons gemeente in Johannesburg; ek is ook 'n teologiese dosent. My klem met hierdie (Padlangs-)kursusse is egter suiwer geestelike groei. Dit gaan oor temas wat ek glo van belang is vir Christene se geestelike volwassenheid. Honderde het al hierdie kursusse gedoen, veral "Geestelike Vorming" en ek het talle briefies gekry oor wat dit vir mense beteken het - dis wonderlik! Ons kursusse behels tans die volgende:
Heel onderaan hierdie blad (by "Attachments") is 'n inligtingstuk wat jou meer inligting gee oor elke spesifieke kursus. Laai dit gerus af. Jy kan ook op hierdie webruimte verder rondkyk (gebruik ons menu hierbo, of kliek op die kursustitels hierbo om jou deur te skakel) vir meer spesifieke inligting en voorbeelde van elke kursusse. Kyk gerus wat jou interesseer.
Ons gebruik ons kursusse om inkomste vir ons bediening te genereer en dit is dus nie gratis nie. Hier by ons moet ons natuurlik maandeliks 'n bediening, 'n huis en 'n hele gesin in stand hou, en hierdie manier werk eenvoudig die beste. Ons gebruik ons kursusse as 'n intensief/dankie-sê vir 'n maandelikse bydrae (ongelukkig moes ons 'n voorgestelde bedrag daarby voeg...) Huidiglik is ons voorstel R120 p.m. As jy hierdie bedrag maandeliks bydra, kry jy elke week 'n kursus van jou keuse. Dit stel ons in staat om met ons (grotendeels gratis) bediening aan te gaan. Ons vertrou jy sien dit ook as 'n sendingbydrae wat jy maak... BAIE DANKIE!
HOE SKRYF EK IN? GAAN SOOS VOLG TE WERK
(1) Teken in as 'n PADLANGS vennoot op die voorblad - BLOU SKAKEL - of regs bo aan hierdie blad (by "Teken in/aan") - of kliek hier - (of skryf aan ons, mense sukkel soms hiermee), en
(2) betaal jou bydrae in. As jy inteken kan jy ook aandui watter kursus jy wil volg.
Ons kursusreëls is die volgende:
1. Ons probeer die kursusse in groepe uitstuur so ver moontlik, en dit kan wees dat ons jou inskrywing terughou met 'n week of wat, OF jy kry meer as een deel vir 'n week of wat om jou inskrywing in te pas by 'n bestaande groep.
2. Kursusse word nie eenmalig (alles in een) aan vennote gestuur nie. Die redes is (a) dat mense dit nie regtig so gedissiplineerd sal deurwerk nie. Hulle sal die eerste deel doen en dit dan neersit, of dalk vinnig deur alles lees. Dis nie die idee nie. As dit weekliks kom, is die kans beter dat jy dit daardie week sal deurgaan soos dit moet; (b) deur dit te versprei is jy dan vir maande of 'n halwe jaar met 'n tema besig, en kry dit kans om deel van jou lewe te word. Dit gaan nie net oor kopkennis nie (informasie) - dit gaan mos oor toepassing (transformasie)!
3. Vir die gebruik van kursusse in klein groepe (waarvoor dit ideaal is) is daar reëls: kliek hier vir meer info daaroor...
4. Die kursusse verskil in duur tussen 6 en 45 weke, en as jy klaar is, sal jy dan 'n ander kursus kan doen (of ander Bybelstudiemateriaal of praktiese opleidingsmateriaal kry). Jy sal dus elke week iets kry.
5. Ons neem 'n kort reses oor die Julievakansie en weer oor Desember (sodat ons kan asemhaal en jy kan inhaal!)
6. Diegene wat in gebreke bly om by te dra sal twee weke na die verstryking van die maand 'n baie vriendelike kennisgewing ontvang, waarby ons ook tydelik die stuur van kursusse sal opskort, ter wille van regverdigheid teenoor almal.
7. Vir 'n bydrae van R120 p.m. stuur ons graag aan jou een kursus. Dit is 'n insentief/ons dankie vir bydraes ontvang. As jy meer as een kursus wil ontvang, sal ons dit oorweeg, maar dit is onderworpe aan die beginsels van (1) groter insentief/groter bydrae en (2) dat ons nie eintlik meer as twee kursusse op 'n slag wil stuur nie, om 'n aantal redes. Skryf egter gerus aan ons!
8. Jy kan natuurlik ter enige tyd afteken van die diens deur ons net te laat weet. No hard feelings...
Jy kry dus elke week 'n volgende deel van jou kursus per e-pos. Jy neem dit ernstig op, en maak tyd om daardeur te werk. Dit sal dalk 'n uur neem as jy dit reg doen. Jy moet 'n stil plekkie kry, bid, daardeur werk met jou Bybel, notaboek/joernaal en penne, en seker maak jy merk al die plekke in jou Bybel goed. Jy bid weer oor die toepassing daarvan en probeer dit, met die Here se hulp in jou lewe integreer vir die week wat kom. Jy dink en bid en praat daaroor, en gaan doen dit! Jy is natuurlik welkom om met ons daaroor te gesels... skryf asseblief 'n briefie!
Dit bring my by die "disclaimer"... Ek stel dit elders ook duidelik dat hierdie kursusse (en ons kan dit gerus iets anders noem, maar die woord spreek duidelik) nie geakkrediteerde kursusse is nie. Dit is m.a.w. nie deur die staat of enige universiteit geakkrediteer nie - dit lei tot geen kwalifikasie en geen sertifikaat nie. Nee, lieweland, dan sou jy mos ook moes werkopdragte doen, eksamen skryf en so aan! Ons kursusse is sistematiese lering, gebaseer op die Bybel oor praktiese geestelike temas... Die geld wat jy bydra is ook nie kursusgelde as sulks nie - dis 'n donasie om 'n bediening te bou. Jy kan dit ook sien as 'n sendingbydrae, as jy wil. Trouens, een van die redes van ons kursusse is om fondse te in vir Padlangs maar nie net te vra nie, ook te gee - aanvanklik het ons bloot bydraes gevra.
DOEN HIERDIE JAAR 'N KURSUS: groei geestelik en ondersteun 'n Christus-bediening!
Baie dankie!
Onthou om nou na die individuele kursusse te kyk - hetsy op die skakels hierbo, op die menu-sisteem van hierdie webruimte of deur die dokument hieronder in 'n japtrap af te laai!
Kyk ook na die artikel: Watter kursus moet ek doen?
Tags:
Antwoorde op hierdie bespreking is gesluit
© 2012 Created by Jimi le Roux.
Aangedryf deur