Hallo Padlangs vriend!
Dit is ongelooflik dat ons al weer aan die einde van die jaar gekom het, nie waar nie? Baie Padlangs-vriende is al weg met verlof, as jy kyk na die Out of Office-boodskappe wat ons elke oggend kry. Ons kry baie, maar die lys is nou omtrent lank! Hiermee dan ons laaste briefie vir die jaar en ek probeer dit so kort as moontlik hou - jy pak seker al in...
PADLANGS SLUIT MôRE: Donderdag, 15 Desember

Ja, jy het seker ons aankondiging gesien…
Kan ek iets hieroor sê? Hierdie jaar was my 49ste (7x7) en ek het dit as “heilige jaar” aan die Here gewy. Laat ek dadelik sê dat my eie planne glad nie uitgewerk het nie… (soos dikwels). Nogtans was dit
‘n besondere jaar van toewyding. Ek wil nie te erg uitwy nie, maar vir my was dit ‘n jaar wat
my geloof op meer as een vlak getoets het. Ek moes met baie dinge worstel, en doen nog steeds. Mens se geloof verander maar altyd soos mens dinge byleer en ander afleer, maar ek kan sê
dat my geloof in God sterker geword het, en my besluit vir Jesus vaster.
Die feit dat ons hierdie jaar net op Jesus gefokus het, het my baie hiermee gehelp. Die oordenkings uit Johannes en die Jesus-Notas het vir my persoonlik baie beteken!
Ek het Jesus weer leer ken as die Nederige, die Liefdevolle, die Radikale, die Oorgegewe Christus en dit het my gehelp deur die jaar se dinge. Ek vertrou dat dit vir jou ook waardevol was en
ek Sê VIR JOU DANKIE vir die voorreg om saam met jou te kon stap en op die Here te fokus. Ek waardeer die geleentheid om jou op die wyse te bedien.
Seën vir jou…
Ek het vir jou ('n) kersgeskenk(e) gemaak...
Die hele reeks van hierdie jaar, PADLANGS MET JESUS, waarin ons deur die hele
Johannes-evangelie gegaan het,
is in een (pdf)
dokument beskikbaar by hierdie skakel. Laai dit gerus af. Dit het ‘n indeks van hoofstukke en twee bladsye agtergrond-inligting oor Johannes.
Jy kan dit moontlik gebruik vir persoonlike Bybelstudie, in die kleingroep of om klein byeenkomste te open. Hier is nog iets vir jou: Ek het
Kers-oordenkings (uit ‘n vorige reeks van Padlangs)
saamgestel vir 7 tot 25 Desember. Jy kan dit
saamvat op vakansie en daagliks lees, of by die werk gebruik as jy in die Padlangs-roetine wil bly. Dit kan waarde toevoeg tot jou belewing van Kersfees – ek hoop dit doen!
Kliek hier vir die Kers-oordenkings.
Volgende jaar: DEUR DIE WOORD
In 2012 gaan ons dagstukkies deur die hele Skrif loop – van Genesis tot Openbaring, Januarie tot Desember. Ek het die gevoel dat ons kennis en gebruik van die Skrif vlak is – dat ons hier en daar ‘n vers beetkry, maar nie insig het in die groot prentjie nie, die hooflyne, die een uiteindelike boodskap. Ek wil ook vir jou help om die belangrikste verse te onderstreep (en te ken) regdeur die Bybel.
Ons sal dus ‘n reeks dagstukkies hê: “Padlangs deur die Woord”, en ook ‘n kursus wat daarmee saamgaan, “Deur die Woord”. Hulle sal mekaar aanvul, maar jy hoef nie beide te doen nie. Daar is 'n bietjie meer inligting
by hierdie skakel. Ek sal meer inligting oor die vakansie oplaai.
Geseënde Kersfees!
Hiermee dan ons Kersfees-wens vir jou: mag jy die lewende Christus teëkom in hierdie tyd, en mag jy voor Hom buig as dit gebeur. Mag jy ook die genade van God beleef, sy welbehae, sy vrede in jou lewe, sy seën. Geniet die verlof (as jy het), geniet die feestyd (as jy werk, ai) en ry uiters versigtig, pas jouself op!
Beste wense...
Jimi en Maryke