‘n Besige, besige maand is verby, vriend. By jou ook? Ons prys die Here vir groei en nuwe
dinge hier by Padlangs en ek sal net vinnig-vinnig met jou ietsie daaroor deel – ek weet daar is soveel werk op jou lessenaar…
Deur die Woord
Ons kursus DEUR DIE WOORD het ‘n goeie begin gemaak en ‘n rekord getal (lyk my) loop saam met ons die pad deur die Woord hierdie jaar. Ek het net een jammerte en dit is dat ons NIE in enige detail kan ingaan nie. Mens brand om soveel interessante feite oor die boeke, mense of situasies te deel, maar dit is net onmoontlik – ons handel plek-plek dan sommer drie of vier Bybelboeke in een week af! Dit is
‘n
breë oorsig, ‘n voëlvlug. Die voordeel hiervan is dat ons
inderdaad deur die hele Bybel gaan
werk (nie lees nie – dis ‘n driejaar projek)
in een jaar en aan die einde van die jaar die Woord as EEN BOEK sal verstaan. Ek geniet dit self vreeslik. Jy kan nog op die wa spring as jy wil, skryf maar as jy wil.
Kliek hier vir meer info… Anders kan jy net die dagstukkies volg – ons gaan in tandem met ons kursus ook deur die hele Woord hierdie jaar en trek al in Josua!
Gratis kursus
Ons het na wik en weeg besluit om
ons kursus Neem Leierskap voortaan heeltemal gratis aan te bied. Dit is ‘n
9 weke inleiding in leierskap – ideaal vir
die kerkomgewing, maar in werklikheid is die leierskapsbeginsels mos universieel. Jy kan
hier kliek vir meer inligting of vir ons
die e-pos adres van enige leraar, bedienaar, kerkleier of groepleier aanstuur (of jou eie e-pos, ja natuurlik) en ons sal dit gratis aanstuur (weekliks,soos gewoonlik).
gmail ge-nail
Ai, ‘n vyfde omtrent van ons lys het gmail-adresse en baie van hulle – lyk ons hier in SA – het
al maande probleme om ons pos te ontvang. Ons het sover as moontlik sulkes op ons addisionele lys gesit, maar laat weet ons maar dadelik as jy nie meer Padlangs kry nie (watter adres jy ook al het). Ek dink egter dit gaan nou beter…
'n Gratis Valentynsdag geskenk...

ODE AAN DIE LIEFDE - Ek het
iets oor die liefde aan Lééf-tydskrif geskryf (in Feb 2012-uitgawe – koop gerus, wonderlike tydskrif) en het
die bewoording uitgelê as ‘n mooi mini-poster (wel, ek hou daarvan - dis in die vorm van 'n hart), as ‘n soort Valentynsgeskenk vir jou!
Jy kan dit hier aflaai en in jou dagboek plak.
Ek en Maryke gaan beslis vanaand heerlik uiteet.
Soos vermeld gaan ek sommer op hierdie brief ook ons gebedsversoeke deurgee (twee maandelikse briewe is darem rof) en ek neem vrymoedigheid om hieronder iets by te voeg. Daar's hy - dis al vir nou...!
Mag die Here jou ryklik seën en jou vol maak van sy liefde, vrede en vreugde. DANKIE dat ons aan jou die Woord mag bedien – dis ‘n absolute voorreg!
Jimi en Maryke
Gebedsversoeke
- Prys die Here vir groei in Padlangs-getalle en bediening, ek is self ook besiger as ooit (en dis nie altyd ‘n goeie ding nie, nè). Sê asb. ook dankie vir die mooi stories wat ons onlangs gehoor het, toe ek bedenkinge gehad het oor ons Engelse Padlangs, BY THE WAY. Dalk moet ek dit iewers post. Nee, ons MOET daarmee aanhou…
- Bid vir ons in ons leë nessie, met ons kindertjies wat nou net naweke huis toe kom, vol stories en pa en ma wat Sondag-aande vir hulle waai – ai, die Circle of Life is wreed (eeue terug was dit beter toe families almal bymekaar gebly het);
- Ons het daaroor gepraat en besluit ons gaan begin bid vir Maryke om voltyds by Padlangs te werk. Sy help reeds twee dae, maar ons slaan basies net vure dood. Ons is egter duidelik nog nie in die posisie nie, en dit sal dalk ‘n tydjie vat, maar ons kan verseker begin bid... Bid asb. dat die Here vir ons die pad sal aanwys.