Jimi  le Roux

spiritual coaching | life coaching

Jong dis nou baie moeilik deesdae, want ek glo 95% van verhoudings is presies so - wat sê ons? Ek worstel self daarmee en het nie 'n finale antwoord nie, maar gee jou 'n paar van my worstelings....

1) seks en huwelik hoort m.i. saam want dit is volgens die Bybel twee kante van dieselfde munt. Die fisieke en die geregtelike. Die een moet nie sonder die ander nie. Geen seks sonder huwelik en geen huwelik sonder seks, min of meer. Beide kante het Bybelse gronde.

2) ten spyte daarvan kan mens glad nie die antieke model (in Bybelse tye) vir huwelike net so oorneem nie, omdat die kulture so drasties verskil, bv.:
• kinders het dikwels nie hul maats gekies nie, en het ook nie vir liefde getrou nie (pa en ma het van beter geweet en dit vir hulle gereel)
• kinders is vroeg al aan iemand beloof/verloof, bv. 12 of 13
• verlowing is net so bindend geag as huwelik en verbreking daarvan (deur daaruit te onttrek of owerspel) is ook beskou as egbreuk
• jongmense het getrou op 15 tot 17, 18 (niks later nie)
• 'n huwelik is nie noodwendig in die sinagoge voltrek nie, of deur 'n priester of rabbi nie - soms het 'n man eenvoudig (maar darem publiek) 'n vrou "gevat"
• 'n vrou se status was totaal onderhewig aan die man s'n en hy kon letterlik oor haar beskik soos hy wou. Hy kon ook van haar skei (maar sy nie van hom nie). Vroue het nie eie inkomste gehad nie, en was altyd van 'n man afhanklik vir voortbestaan.

3) Mens moet onderskei tussen die praktyk soos hier genoem en die Here se ideale wil wat die bg. status quo in ideale terme voorskryf: mans en vroue wat mekaar liefhet, getrou bly, ens. Dis egter nie asof die Here hulle praktyke wil verander om soos 21ste eeuse praktyke te lyk nie. Mens moet ook nie aanvaar dat ons nou moet terug na die kulturele praktyke van Bybelse tye nie. Dis nie die boodskap van die Bybel nie. Nee, ons moet probeer om die Here se beginsels wat Hy IN hulle kultuur voorskryf te onderskei en IN ons kultuur toe te pas. M.a.w. onder ons (en hulle) praktyke moet goddelike beginsels lê. Wat sou dit wees? Persoonlik dink ek aan die volgende:
• in beginsel is seks vir die huwelik en die huwelik vir seks (o.a.)
• in beginsel bedoel God een man vir een vrou in 'n liefdevolle en permanente, getroue en vervullende verhouding
Alles daarteen is nie God se ideale wil nie. Dit is bv. dinge soos seks buite die huwelik en egskeiding maar dit aanvaar OOK dat 'n liefdelose huwelik, en afbrekende en vernederende verhoudings EWE buite God se wil en droom vir 'n huwelik is.

4) Ons eie praktyk het so verander, net die laaste 20 jaar, dat dit nou baie moeilik vir pare is, seksueel en andersins. Onthou, die Here het die mens gemaak met 'n seksuele piek op 15-18 of so iets. Vroeër het ons pare ook getrou rondom 20, of vroeg in die 20s. Hulle kon dus makliker onthou tot dan. Deesdae is dit eers studeer, dan werk, dan dikwels eers verhoudings aanknoop, dan geld opspaar, al sulke dinge... die gevolg is dat baie pare eers tot trou kom in hulle 30's. (In Bybelse tye was die gemiddelde lewensverwagting maar omtrent 40!) Dit is dus baie moeiliker (en die wêreld om hulle maak dit ook baie moeilik)om hulle seksueel te onthou (vir bv. 20 jaar). Mens kan ook baie geld spaar as jy jou kostes deel (in een huishouding). Die vraag is: is so 'n samelewing (met sulke gevolge) nou God se wil vir 'n gemeenskap, of is dit 'n mens se maaksel? En hoe leef mens volgens goddelike beginsels in so 'n samelewing? Mense vind dit onmoontlik om hulle drange te keer en gaan dus maar in 'n seksuele verhouding - en dikwels is dit die mooiste Christene. So leef hulle of met 'n groot skuldgevoel, of hulle draai hulle rug op die kerk, wat die "onmoontlike" van hulle verwag.

5) Hoe hanteer ons dus nou die praktyk? Ek dink aan die volgende:
• selfs in die Bybel sien ons meestal nie die Here se ideale wil in werking nie, maar 'n praktyk wat in meerdere of mindere mate daarvan afwyk, en dit geld nou sy wil op alle terreine
• die mooi is dat die Here steeds mense liefhet en met hulle bly werk op pad na sy wil toe, en ek dink ons moet dieselfde doen
• dit beteken nie dat ons nou sommer alles toelaat en vergeet van die duidelik morele kompas wat die Here uitwys nie. Dit beteken dat ons mense in liefde help om daarheen te gaan
• casual seks is bv. m.i. afbrekend, en ons hoef glad nie te glo dat Hollywood-style verhoudings die norm hoef te wees nie
• eerstens is dit van belang om mense te sien as meer as hulle gedrag: ons almal ken sonde in ons lewe maar ons bly in God se oë kosbaar en waardevol
• ons moet ook ophou om te dink dat seksuele sonde is erger as ander sonde, soos bv. ongehoorsaamheid, twisgierigheid, hebsug, skinder, ens. Sonde bly sonde en dit maak ons almal nederig
• ek sou sê pare moet aanvaar word waar hulle is, en op hulle versoek moet die Bybelse prentjie oopgevou word. Persoonlik wil ek dan met hulle hulle reis bespreek, bv. hoe lyk die pad na 'n huwelik toe. Ek het ook al couples gehelp om tot trou te kom. Indien ons nie na 'n huwelik op pad is nie, wat is die aard van ons verhouding? Waarheen gaan ons? Ek vind dit soms moeilik om te verstaan waarom mense nie tot trou kom nie - ek dink die commitment issues in hulle verhouding is belangrik
• ek is persoonlik vir vroeër trou, maar daarmee nie vir ligtelik trou nie!

Sjoe ek het nou baie geskryf - jong dis min of meer soos ek daaraan dink. Die "teorie" is redelik duidelik vir my, maar die praktyk moet hanteer word.
Hoop dit help.
Jimi le Roux

Views: 42

Antwoord hierop

© 2012   Created by Jimi le Roux.   Aangedryf deur

Jimi le Roux-wapens  |  Report an Issue  |  Terms of Service