Jimi: Waar staan ek geestelik?


Jimi: Waar staan ek geestelik?

Waar is ek nou geestelik?

Ek kom al ‘n pad met die Here. Ek is gebore in ‘n huis met ouers wat die Here voluit gedien het en het finaal my lewe vir die Here gegee in St 9. Ek het die Here se roeping beleef terwyl ek besig was om ingenieurswese te studeer en het toe teologie gaan studeer by die CGTS, Unisa en die US. Daarna is ek bediening toe. Ek is teologies...

  • protestants maar ook post-protestants. Ek bedoel nie dat ek ‘n katolieke of ortodokse Christen is nie, maar dat ek gegroei het om te sien dat die Christelike wêreld groter is as die protestantisme, dat ons almal eers vir eeue in dieselfde kerk was, en dat daardie kerk nie nét verkeerd was nie.
  • gereformeerd maar ook post-gereformeerd. Ek bedoel dat my agtergrond en opleiding gereformeerd is, en dit het my gevorm, maar ek kan ook krities terugkyk en die Calvinisme in sy konteks sien. Onthou, as mens sê "post" - sê jy nie "non", of "anti" nie.
  • evangelies maar ook post-evangelies. Ek bedoel dat ek glo dat elke mens die Here persoonlik moet aanneem, maar ek glo nie dat God met twee mense presies dieselfde werk nie. Worsmasjien-christenskap is nie soos God werk nie. Evangelicalism is 'n hedendaagse vorm van Christenskap en reeds onderhewig aan verandering.
  • charismaties maar ook post-charismaties. Ek bedoel dat ek die werking van die Heilige Gees beleef het (en die besondere gawes ken en beoefen), maar dat ek ook kan sien wat is eg en wat nie. En ja, daar is goed wat fake en vlak is, skeefgetrek om God sover te kry om my te seën - daar is ook vlees.

Ja, ek is 'n post-moderne Christen en leraar - hoe anders? Ons leef in 'n post-moderne tyd. Die Kerk van Jesus verloor relevansie en ons het dringend nodig om Christenskap nuut vir 'n nuwe generasie aan te bied. Christendom is in so 'n krisis, terwyl ons kerke vasgevang bly in sy historiese, evangeliese en charismatiese tradisies - ja, dis ons tradisies. Ons tradisies is nie noodwendig verkeerd nie, maar dit moet effektiewe wynsakke wees en dit moet Jesus se boodskap eg oordra... Ons moet Jesus verstaan en die huidige generasie verstaan. Laat ons dus radikaal terugkeer na die Bybel en dan met die goeie nuus oor Jesus die huidige generasie bedien. Die volgende twee Christelike benaderings het die laaste jare vir my - soos vir baie - baie beteken:

  • Ek waardeer die ontluikende (emergent) kerk se benadering, want die bg. is presies wat hulle wil doen. Dit beteken nie dat alles wat elke emergent leier sê vir my goed en reg is nie, ewe min as wat ek aanvaar wat elke gereformeerde teoloog, elke evangeliese prediker of elke charismatiese bedienaar sê. Dit gaan vanself. Daar is soveel bad press rondom die emergent beweging, maar dit is ook meestal van mense wat regtig nie baie daarvan weet nie. Die vraag is bloot, "Hoe kan ons kerk wees in ons dag", want dit sal anders wees as in die verlede. 
  • My groei is ook om die kontemplatiewe te integreer in my verstaan en lewe. Ek waardeer die diepte en die wysheid daarvan, die egtheid en die natuurlikheid, die geestelikheid en die aardsheid. Die aktwiteit en die stilte. Die simboliek en ritmes. God se teenwoordigheid. Dit antwoord vir my vrae wat nêrens elders beantwoord word nie en laat my tuis voel.

Eintlik wil ek nie 'n etiket hê nie.

Ek sê nie ja vir 'n sisteem as sulks nie. Dis meestal mense se dinge. Ek is op 'n reis met die Here. Ek is op ‘n ruimer plek. ‘n Nederiger plek ook hopelik, want ek wil naïewer, ja dommer wees as wat ek eens was, toe ek nog antwoorde vir alles gehad het - of so gedink het. Ek wil eintlik minder weet, behalwe dat God groot is. En dat sy liefde en genade alles is.

Die volgende is my persoonlike geloofsbelydenis, na aanleiding van die credo van die Kerk van die Eeue:

    Ek glo dat die Almagtige God my Vader is -

    dat Hy my gemaak het, my ken en my liefhet.

    Ek glo dat Jesus Christus God is

    wat Homself vir my sonde gegee het.

    Hy is uit die Maagd Maria gebore,

    maar deur ons verwerp,

    Hy is onder Pontius Pilatus gekruisig en begrawe,

    maar het op die derde dag uit die dood uit opgestaan,

    na die hemel opgevaar,

    waar Hy aan die regterhand van God regeer

    en vir my intree en bid.

    Ek glo dat die Heilige Gees my na God toe lei,

    my gebreke vergeef

    en vorm na die beeld van Jesus Christus

    sy Eniggebore Seun, my Here.

    Ek glo dat ek deel is van een heilige algemene kerk,

    die Liggaam van Christus,

    dat alle gelowiges my broers en susters is,

    dat Christus weer sal kom om my te haal,

    dat Hy alles reg sal stel en

    dat ek vir ewig by Hom sal leef.


    .