Stiltetyd - vooroordele en voordele...


Stiltetyd - vooroordele en voordele...

Hierdie is ‘n persoonlike brief oor die tema van stiltetyd.

Wees verseker, ek wil nie nog skuldgevoelens op jou laai nie.

Ek wil jou eerder vrymaak, en jou help...

‘n Oase in jou dag

Om mee te begin: ‘n daaglikse stiltetyd is baie voordelig vir elke kind van God. Dis ‘n wonderlike, geseënde tyd – ‘n tyd van ontmoeting, van rus, van Woord inneem, van meditasie, van hart uitstort, van musiek, van vrede en van stil-wees voor God. Dis ‘n oase in jou dag. ‘n Stiltyd verander jou dag en verdiep jou lewe.

Daar is geen veroordeling...

Nogtans is stiltetyd ‘n dissipline waarby baie min uitkom, en skuldgevoelens hieroor is algemeen. Skuldgevoelens oor stiltetyd is egter ‘n onnodige emosie. Onthou, stiltetyd is nie ‘n wet nie. Daar is geen opdrag in die Bybel om vyf-uur soggens op te staan en vir ‘n uur te bid nie. Dis tel nie krediete by die Here as jy ure en ure bid nie; Hy sal jou nie meer of minder liefhê nie. Los dus maar die skuldgevoelens, en kom ons los die veroordeling. Ons staan in genade voor God – betoon aan jouself (en ander) dus ook ‘n bietjie genade. Jy is ‘n kind van God, en jy wil met die Here leef, maar jou dag is eenvoudig gepak: kinders, skool, werk, aktiwiteite, kos maak, verpligtinge, kerk. Na dit alles is jy doodmoeg en wil net voor die TV lê en ontspan – ‘n bietjie ek-tyd hê. Ja, dis soos dit vir die meeste mense is. Stiltyd klink vir hulle na nog ‘n plig, waarvan hulle reeds so baie het – nog iets om oor sleg te voel. En gebed is juis so moeilik... Ek glo 90% van die kinders van die Here bid en lees op baie verskillende maniere, sonder om ‘n “klassieke” stiltetyd te hou – en die Here het hulle baie lief. Skuldgevoelens beteken in dié verband dus maar min, en veroordeling nog minder. Trouens, as jy op grond van jou eie streng stiltetyd ander veroordeel, doen jy iets nie reg nie. Dan moet jy dalk ophou met jou stiltetyd, want dit maak jou hoogmoedig – en die vrug van die Gees is nederigheid, nie hoogmoed nie.

Daar is net voordele...

Met dit gesê, en alhoewel die Skrif nie as sulks ‘n klassieke stiltetyd voorskryf nie, is daar baie opdragte in die Skrif dat ons sal bid, “altyddeur”, en baie voorbeelde van bidders wat hulself gereeld afgesonder het. Dink aan Isak in die veld, Dawid op sy bed, Elia in die woestyn, Daniël voor sy oop venster en Jesus wat soggens, snags, wanneer-ook-al onttrek om te bid, op die berg, in die woestyn, in die tuin. Daar is baie opdragte om die Woord in te neem, om te sing, om stil te wees voor God. Met ‘n stiltetyd gebeur al hierdie dinge. Daarom het al die godsmanne van die eeue ‘n stiltetyd gehandhaaf, en elke Christen wat stiltetyd hou sal getuig watter verskil dit in sy lewe maak. Probeer dit dus doen – nie omdat dit ‘n wet is nie, maar omdat dit goed is vir jou, nie omdat jy MOET nie, maar omdat jy WIL, omdat jy wil groei, omdat jy verlang na tyd met God. Oefening of gesond eet is ook nie elke dag lekker nie, maar dis goed vir ons, en kort voor lank wil ons nie langer daarsonder gaan nie.

Hoe kan ek dit dus aanpak?

Ek hoop die volgende – en dis absoluut my eie, persoonlike opinie en praktyk – sal jou help:

  • Begin deur te besef dat jy stiltetyd moet inpas by jou unieke lewensritme. Daar is mos nie ‘n wet nie: dit hoef nie soggens te wees nie en dit hoef nie ‘n halfuur of ‘n uur te wees nie. Dalk werk etenstyd by die werk vir jou, dalk Woensdag-middae, dalk iewers op ‘n Saterdag of op ‘n stil Sondagmiddag? Dalk het jy letterlik net jou rit werk toe en terug. Dan is dit ook goed, want die Skrif en oordenkings en ure se musiek is alles op jou kar-radio beskikbaar en kan jy lekker hardop bid en sing in jou kar. Dis ‘n goeie, werkbare stiltetyd. Baie mense bid immers terwyl hulle draf of luister na die Skrif of ‘n potgooi as hulle op die trapmeul loop. Máák dit dus vir jou werk op jou manier. As jy jonger is, gaan dit dalk ‘n vinniger manier wees, maar as jy afgetree is het jy heerlike tyd - ure. Kan ek net iets byvoeg: vroegmôre is wél vir die meeste mense die beste. Die huis is nog stil, die oggend is nog vars en die koffie is so welkom...
  • Terwyl ons van tyd praat, jy mag maar klein begin. Tien minute is beter as niks, en vyftien minute nog beter. Of twintig. Onthou, ons doel is nie om nou en dan – bv. as die pôpô in die fan is – ure lank te bid nie, maar om ‘n gereelde gebedstyd te ontwikkel, al is dit kort. Volhoubaarheid is waarna ons soek. Ons wil ‘n gewoonte vestig. As jy iets 21 keer agter mekaar gedoen het, sê hulle, het jy ‘n gewoonte gevestig.
  • As jy bv. gereeld DAAGLIKSE STILTE lees, ons vyf-minute oordenkings, is dit ‘n goeie begin. Ja, dis ‘n mini-stiltetyd: Skrif, oordenking, gebed. Brei dit uit met jou eie gebed-vir-vandag en luister na ‘n lied en jy het ‘n sinvolle 15-minute, daaglikse stiltetyd. Daar’s niks mee verkeerd nie.
  • Maak dit vir jou mooi. Maak dit lekker. As ons sisteme of roetines wil vestig moet ons dit so maak dat ons dit WIL gebruik. Kry dus vir jou ‘n mooi hoekie, met ‘n leunstoel en ‘n uitsig, en ‘n prent van Jesus (ek hou van ikone), en jou Bybel en jou joernaal (as jy die skryf-tipe is). Maak dit dan jou go-to plekkie waar jy kan skuil en met God kan praat, waar jy kan herlaai. Dalk sit jy op jou stoep met jou koffie, of in die tuin – en daar’s natuurlik niks verkeerd met die eetkamertafel nie. Ander sit in hulle bed, want dis winter en dis koud... Dit maak nie saak nie.
  • Steek vir jou ‘n kers aan – as jy kan en as jy wil. Jy hoef natuurlik nie, as jy dink dis Rooms of so. Maar dink daaraan: van die Menora af in die tempel (wat die Here self beveel het) tot by die sinagoge waar die lampe gebrand het (en waaruit die kerk gebore is) en die Sabbatskerse wat Joodse vroue steeds elke Vrydagaand aansteek, het lig die teenwoordigheid van die Here en van sy Gees aangedui. So lank as wat die kers brand, voel ek, is die Here daar. Dis net ‘n simbool, natuurlik, net ‘n hulpmiddel, maar deur die simboliek daarvan wy dit my tydjie daar tot ‘n heilige tyd.
  • Klee jou stiltetyd in soos jy wil. Daar’s mos nie ‘n voorskrif nie, en mense verskil. Die een sal intensiewe Bybelstudie doen, die ander sal in haar joernaal skryf, die derde in totale aanbidding wees. Solank daar Woord en gebed is, voel ek doen jy goed. Trouens, as jy net by die Here sit, is dit reeds wonderlik – as jy sy teenwoordigheid betree het. Die feit DAT jy daar sit is meer belangrik as WAT jy daar doen. En weereens, hê genade met jouself. As jy sommige dae net verdwaal raak in die Bybel en lees en lees is dit goed, as jy net sit en skryf is dit goed, as jy net musiek luister is dit goed, as jy half-deur-die-slaap lees en bid en later nie meer kan onthou wat dit was nie is dit goed, as jy vir ‘n halfuur net daar sit met jou deurmekaar gedagtes en jou kwellinge is dit goed – want JY SIT DAAR VOOR DIE HERE. Hý maak die verskil, nie jy nie. Dit BLY ‘n heilige tyd, en daardie HELE tyd is jou gebedstyd – nie net die dele waar jy fisies bid nie.
  • Sit tog musiek by. Ek luister elke dag na een geestelike lied. Ek hou van rustige aanbiddingsmusiek vir stiltetyd of van my gunsteling sangers of van Taizé-gesange (ek hou van baie soorte geestelike musiek). Soms vind ek dit mooi om geestelike musiek die hele tyd SAG in die agtergrond te speel as ek lees of bid, maar weereens, jy hoef nie, want musiek trek sommige mense se aandag af. Ek kan nie stiltetyd hou sonder musiek nie. Soms bedien dit my meer as die Bybel (dit klink verkeerd, maar jy weet wat ek bedoel – ek sukkel soms om geestelike lesse uit ‘n hoofstuk vol geslagsregister te vind!)
  • Laat jou mense maar weet. Dis vreemd dat ons soms skaam is om nou skielik met die Bybel daar te sit en dan nog ‘n kers ook aan te steek. “Wat makeer hom?” "Mamma, is alles reg?" Die huismense kan egter maar weet dat jy stiltetyd hou. Onthou, die goddelike geslagte van vroeër het kliphard gebid vir hul kinders (en hul sondes), ons hoef nie te skaam te wees nie. Sê maar vir hulle jy volg nou ‘n nuwe program op die internet, want jy wil meer aandag gee aan jou geestelike lewe. Of so iets. As ouers lees en bid maak dit ‘n diep impak op die kinders. Jou huismense sal dit respekteer, maar neem hulle in ag en maak tog seker jou gedrag stry nie te veel met jou getuienis nie!

Dis wat ek doen

Ek self werk volgens ‘n program. Anders is dit vir my te rond-en-bont. ‘n Vaste program verplig my om die areas te dek wat ek graag wil dek. My persoonlike program (en dis net ek, asseblief, net ‘n voorbeeld) lyk so:

  • Ek open my gebedstyd uit ‘n psalm (die Skrifgedeeltes wat ek gebruik ken ek al uit my kop uit, want ek probeer ook sekere verse memoriseer).
  • Dan bid ek die Ons Vader. Oor die Ons Vader kan ek baie sê, maar sal bloot hier herhaal (1) dat die Here GESÊ het ons moet dit daagliks bid en (2) dat dit ons verhoed om terug te val op gebed wat suiwer oor myself gaan.
  • Dan lees ek een hoofstuk in die Bybel, daar waar ek tans lees, nie rond en bont nie, anders lees ek net die “lekker” verse. Ek lees dit so dat ek myself kan hoor. Dit fokus my meer.
  • Dan bepeins ek wat ek gelees het – wat ons “meditasie” of “Skrifmeditasie” noem. Vra: “Wat sê U, Here?” en kyk weer deur die gelese gedeelte. Wat staan uit? Wat is die boodskap vir jou? Bedink dit dan: Wat beteken dit? Hoe moet ek dit verstaan? Wat is die toepassing? Wat moet ek doen? Laat die Heilige Gees jou lei om sy Woord oop te maak en toe te pas. Soms is daar niks, nè, soos met geslagsregisters. Dan vra ons môre weer wat die Here wil sê.
  • Dan bid ek. Ek begin my gebed altyd met lofprysing, altyd met God – nie by myself nie – want die Bybelse gebede lyk so. Na lofprysing, bid ek my belydenisse (as daar iets is) en dan doen ek voorbidding. Ek bid vir my geliefdes en familie, almal by name, vir elke Padlangs-leser, kursus-volger en bydraer, dat hulle geseënd sal wees, vir Padlangs Bediening, vir my eie behoeftes (maar ek hoef dit nie baie uit te spel nie, want die Here ken dit beter as ek), vir die kerk, vir Suid-Afrika of wat die Here ook al op my hart lê. Dit wissel elke dag. Ek probeer oop wees vir wat die Here op my hart lê.
  • Ja, dan luister ek na ‘n lied in my oorfone, en baiekeer bly hierdie lied my die hele dag by.
  • Dan sluit ek af met vyf minute stilte. Ek wei elders hieroor uit, maar stilte is baie belangrik in ons verhouding met God. Ons sê ons hou “stiltetyd”, maar praat die hele tyd! Ek sit dus bloot in doodse stilte voor die Here, gewoonlik deur ‘n eenvoudige gebed te herhaal om te verhoed dat my gedagtes begin hardloop. Daar is eintlik baie wat mens in jou stilte kan doen. Tien minute stilte is nog beter, maar mens moet ook prakties wees. Ek voel as ek nie in stilte gesit het nie, is my stiltetyd nog nie verby nie, of het ek dit nie vandag reg gedoen nie.
  • Héél ten slotte lees ek ‘n gebed wat ek geskryf het oor die vervulling met die Heilige Gees, want ek glo ons moet elke dag bid dat die Here ons met sy Gees vervul. Ons vra dit in geloof, ontvang dit in geloof en leef dit in geloof.

Hierdie program neem my omtrent ‘n halfuur. Jy kan natuurlik jou eie program maak – dis immers ‘n baie persoonlike saak – wat korter is, bv. vyf minute lees, vyf minute bid, vyf minute musiek – voilà!

Ten slotte...

Uiteindelik moet ons besef dat stiltetyd ‘n prys kos, en dat ons ‘n offer daarvoor sal moet maak. Ons moet besef dat baie van ons redes waarom ons nie kan nie eintlik maar verskonings is. Jammer... Ons sal moet vra of ons WIL, want as daar ‘n WIL is, is daar ‘n WEG. Kyk tog of jy vir jou ‘n heilige tyd en heilige ruimte kan inruim. Gaan ontmoet God daar en jy sal die seën daarvan beleef!

Laat weet hoe dit gaan!

Jimi le Roux

    .