Zoom-klasse - meer inligting


Zoom-klasse - meer inligting

WELKOM BY ONS AANLYN KLASSE!

Ons het in 2020 met aanlyn-klasse begin en het sedertdien gereeld daarmee voortgegaan. Verskeie kursusse is al op dié manier deurgesels. Die dinamiek van 'n klas is ryker en meer as om net die weelikse Bybelstudies te ontvang. Die reëlings vir ons klasse is soos volg:

  • Die aanlynklas is op Maandag-aande om agt, 20:00, op Zoom. Die klas duur 45 minute.
  • Die aanteken-wagwoorde word deur die loop van Maandagmiddag aan diegene gestuur wat vir die klas ingeskryf is.
  • Die klas behels 'n kort bespreking van die vorige week se materiaal, gevolg deur vrae en antwoorde of 'n bespreking.
  • Om op Zoom in te skakel is nie tegnologies moeilik nie. Jy benodig net 'n goeie internet-konneksie, genoeg data (maar dis nie buitensporig nie), en moet Zoom aflaai op jou rekenaar of selfoon. Daarna hoef mens net op die skakel te klik wat gestuur sal word.
  • Niemand in die aanlyn-klas hoef deel te neem of iets te sê nie, of selfs hul video aan te skakel nie. Dis geheel en al jou keuse.
  • Jy hoef nie noodwendig elke klas by te woon nie. Dis 'n lekker ritme om Maandag-aande klas te loop, maar daar is geen verpligting nie.

Die waarde wat die aanlyn-klas toevoeg is die gesprek en interaksie, ons leer mekaar ken (daar heers 'n gemoedelike atmosfeer) en ons kan spesifieke temas bespreek of vrae beantwoord wat nie noodwendig in die materiaal uitgelig word nie. Baie meer leer vind op die manier plaas. Die volgende kommentaar is oor ons Zoom-klasse ontvang:

  • As Suid-Afrikaner in die buiteland bied Jimi se kursusse vir my die moontlikheid om my geloof in my moedertaal te beoefen. Sommige kursusse bied die opsie om aan 'n aanlyn klas deel te neem. Ek vind dit persoonlik waardevol om met ander Christene te kan gesels en so deel te wees van 'n virtuele Afrikaanse Christelike gemeenskap. Lezanne Fischer
  • Die manier van aanbieding (van die Zoom klasse) was eenvoudig en sonder pretensies. Dit het 'n geleentheid gebied om ook iets by te voeg of aan te spreek. Dit het goed gewerk. Marianne Smit
  • Ek wil net sê dat die pas-afgelope Zoom klasse baie kosbaar was en 'n wenner. Anna Brown

Besluit om deel te neem, te leer en dit te geniet!

Hieronder volg meer uitvoerige instruksies hoe om Zoom te gebruik:


HANDLEIDING OM ZOOM TE GEBRUIK
deur Danie Mouton (aangepas: Feb. 2023)

Zoom is 'n stabiele digitale platform wat min data gebruik. 'n Gebruiker kan by 'n Zoom-vergadering aansluit vanaf enige rekenaar met 'n webcam (mikrofoon en kamera) en luidsprekers. 'n Skootrekenaar werk goed. Gebruikers kan ook die Zoom-app op slimfone of tablette aflaai.

1. INSTALLASIE
Hier is die instruksies:

1.1 Windows (rekenaar)
1.1.1 'n Klein program, die Zoom Desktop Client, word van die internet afgelaai en op jou rekenaar installeer. Gaan na www.zoom.us en dan na Resources. Laai die Zoom Desktop Client daar af. Jy kan ook hierdie skakel gebruik: https://zoom.us/download
1.1.2 'n "Save as" skermpie sal oopmaak – stoor nou die program ZoomInstaller.exe op jou rekenaar se hardeskyf. Dubbelklik op ZoomInstaller.exe. Klik "run" op die "open-file" instruksie op jou skerm. Die program sal installeer. Gee die nodige toestemming wanneer Windows daarvoor vra.
1.1.3 Nou moet jy 'n gratis Zoom-rekening oopmaak. Wanneer Zoom jou gedurende installasie vra, tik jou e-posadres as gebruikersnaam in en 'n wagwoord van jou keuse. 'n Ander opsie is om vooraf na www.zoom.us te gaan en te kliek op "Sign in".
1.1.4 Jy kan nou in-log op die Zoom Desktop Client wat jy op jou rekenaar installeer het.

1.2 Slimfoon of tablet
1.2.1 Zoom is beskikbaar op die Play store (Android-fone), sowel as op die Apple Appstore (iOS and ipadOS). Laai dit af op jou selfoon of tablet. Gee aan Zoom al die "permissions" waarvoor dit mag vra.
1.2.2 Na afloop van installasie, moet jy 'n gratis Zoom-rekening oopmaak. Nadat jy dit gedoen het, moet jy op jou rekening op die app in-log. Gebruik jou e-posadres as gebruikersnaam.
1.2.3 Verseker dat jou slimfoon vol gelaai is (met jou laaier naby) wanneer jy op 'n Zoomvergadering inskakel. Nie dat Zoom so baie batterykrag gebruik nie, maar ons wil nie sien dat jou battery leeg loop terwyl jy met ander skakel nie.
1.2.4 Jy is nou gereed om by 'n Zoom-ontmoeting in te skakel.

2. SLUIT BY DIE KLAS AAN
Die belangrike punt is dat jy die aksie moet neem om by 'n Zoom-vergadering of -byeenkoms in te skakel. Niemand gaan jou skakel nie – jy moet inskakel. Beskou die skakel (of inligting om in te skakel) wat jy by die organiseerder van die Zoom-vergadering kry as vertroulik. Dit is die basiese voorsorg om te verhoed dat ongenooide persone op die vergadering inskakel. Daar is twee maniere waarop jy by 'n klas kan inskakel:

2.1 Gebruik die webskakel wat in die uitnodiging aan jou gegee word
2.1.1 Die organiseerder van die klas sal vir jou 'n webskakel stuur waarop jy kan klik om by die vergadering in te skakel. Klik so 5 minute voor die vergadering begin op die skakel. Dis al.
2.1.2 Wanneer jy inskakel, sal jy gevra word of jy met video of daarsonder wil inskakel. Jy kan kies. Indien jou data min is, of jou internet-konneksie nie so sterk nie, kan jy sonder video inskakel. Jy kan video deur die loop van die vergadering aan- en afskakel soos dit jou pas.
2.2 Gebruik die "Meeting ID" en die unieke wagwoord om in te skakel
2.2.1 Vir diegene wat die Zoom-app op jou selfoon of tablet gebruik, of vir diegene wat direk uit die Zoom-kliënt op jou rekenaar wil inskakel, is die "Meeting ID" en wagwoord beskikbaar. Dit word ook deur die organiseerder / gasheer aan jou verskaf - alhoewel ons eie klasse sonder wagwoord werk.
2.2.2 Klik op "Join". Daarna tik jy die "Meeting ID" en wagwoord in soos aan jou verskaf.

As jy die bg. gedoen het sal jy in 'n "wagkamer" verkeer totdat die organiseerder of aanbieder jou inlaat. Dan sal al jou klaslede op die skerm verskyn, hetsy as lewende beelde (as hul video aan is), of net die name (as hul video af is). MUTE asb. jou mikrofoon, tensy jy wil gesels, want almal kan nou hoor wat in jou kamer gebeur of geluide kan ontwikkel wat steurend is.

3. UITNODIGING NA DIE VERGADERING
3.1 Slegs diegene wat vir die klas ingeskryf is, sal die wagwoorde ontvang. Dis belangrik om nie ongenooide mense in die klas te hê nie, want onbekende mense kan op verskeie maniere die byeenkoms ontwrig.
3.2 Die organiseerder sal ook deur weeklikse e-posse met die klaslede gesels oor die reëlings en hulle op hoogte hou. Ons probeer ook 'n Facebook of WhatsApp groep skep vir laaste minuut reëlings.
3.3 Let op, aan die begin is almal maar vreemd en 'n leerkurwe is ter sprake. Oefen maar 'n bietjie as jy sukkel. As jy vind jy kan nie ander hoor nie, of jou verbinding is sleg, log uit en log weer in. Dalk kry jy 'n beter verbinding. Maak seker dat jy met "computer oudio" inskakel (van jou rekenaar af) , anders kan jy nie gehoor word nie. Gewoonlik werk Zoom egter heel maklik en sonder probleme. As Zoom jou "afgooi" bv. agv tegniese redes, sal dit self dadelik probeer om jou te herkonnekteer.

4. ZOOM-ETIKET
4.1 In 'n Zoom klas moet ons mekaar kans gee om te praat. Solank die een praat, word die ander geblok. As 'n ander een begin saampraat, word die bestaande spreker geblok. Net een kan dus op 'n slag praat. Die klasleier moet die gesprek lei en aan elkeen beurte gee. Begin gerus gesels as daar gevra word vir kommentaar (anders is almal weer doodstil, en die gesprek is lekker) of anders druk die handopsteek-knoppie wat op Zoom se kontroles is. Gesels lekker saam, maar wees ook bewus dat ons klas amptelik net 40 minute duur en dat ons nie (baie) kan afdwaal na ontoepaslike temas nie.
4.2 Jy moet jou mikrofoon asb. MUTE. Anders hoor almal hoe jou hond blaf, hoe jy jou tee roer of met iemand anders in die vertrek praat. Trouens, die geluid sal die spreker uitblokkeer. Druk dus MUTE op jou kontroles as jy aansluit en UNMUTE as jy wil antwoord of saamgesels.
4.3 Hou jou selfoon of tablet stil terwyl die klas aan die gang is, anders kan dit vreeslik steurend wees om na jou te kyk. Stel dit op op 'n plek waar dit vansself kan staan. Jy kan by die Zoom-settings vooraf jou video instel en seker maak jy verskyn mooi in die middel van die beeld.
4.4 Maak die Chat-funksie oop by die kontroles. Zoom gee die geleentheid dat ons - terwyl die gesprek aan die gang is - boodskappies kan stuur, bv. reëlings of vrae. Dis baie nuttig.
4.5 Dis die beste praktyk om jou rekenaar 'n uur voor die tyd te restart, dan is meer geheue beskikbaar vir die Zoom vergadering.

Die belangrikste is om te ontspan, die nuwe tegnologie aan te leer (ons gaan in die toekoms baie meer só werk) en die klas te geniet!

Vra gerus as daar vrae is, of reël met my vir 'n oefenlopie sodat jy gewoond kan raak :-)

Jimi

.