Hoe werk ons kursusse? Inligting en reëls...


Hoe werk ons kursusse? Inligting en reëls...

Hoe werk ons kursusse?

Ons kursusse word gestuur aan diegene wat ons bediening maandeliks ondersteun. Om die bydrae sinvol te maak, gebruik ons die maandelikse (minimum) bedrag van R150 p.m. Kursusdele word weekliks per e-pos uitgestuur, tans op 'n Dinsdag. Jy kry dus elke week 'n volgende deel. Daar is geen huiswerk of ander verpligtinge nie. Jy neem dit bloot ernstig op, en maak iewers in die week 'n tydjie om daardeur te werk. Dit sal dalk 'n uur neem as jy dit reg doen. Jy moet 'n stil plekkie kry, bid, daardeur werk met jou Bybel, notaboek/joernaal en penne, en seker maak jy merk al die plekke in jou Bybel goed. Jy bid oor die toepassing daarvan en probeer dit, met die Here se hulp in jou lewe integreer vir die week wat kom. Dis al. Soms is daar 'n video wat die kursusdeel vergesel. Probeer regtig om dit te kyk, want dit gee heelwat agtergrond inligting. Sommige kursusse het ook 'n aanlyn ("Zoom")-klas. Dis maklik en baie waardevol om dit by te woon!

Mense skryf dikwels om te sê wat ons kursusse vir hulle beteken het. Dis ook nuttig vir gebruik in kleingroepe. Geniet ons kursusse!

Kyk gerus deur al ons kursusse of iets tot jou spreek. Kliek hierop:

Kliek hier om deur al ons kursusse te kyk

Agtergrond

Lering lê onderliggend aan alles wat ons doen, of dit nou dagstukkies, prediking, kursusse of wat ook al is. Dis my gawe en my bediening, as leraar, bedieningsleier en dosent. Dis my priesterlike roeping om mense te leer "om alles te onderhou wat Ek julle beveel het" (Mat. 28:19). Ons kursusse gaan dus oor geestelike groei en geestelike volwassenheid. Dis relevant, maar nooit oppervlakkig nie; diep, maar nie teoreties nie; prakties, maar teologies verantwoordbaar. Dit is in pas met die kerk en die Christen van vandag. Hierdie materiaal is nie net bymekaar gemaak nie - dit kom ook uit my hart uit: dis wat ek glo en verkondig en wat ek self wil wees. Honderde mense het al hierdie kursusse gedoen, veral "Geestelike Vorming".

Ons kursusreëls is die volgende:

1. Ons probeer die kursusse in groepe uitstuur so ver moontlik, en dit kan wees dat ons jou inskrywing terughou met 'n week of wat, OF jy kry meer as een deel vir 'n week of wat om jou inskrywing in te pas by 'n bestaande groep.

2. Kursusse word nie eenmalig (alles in een) aan vennote gestuur nie. Die redes is

  • dat mense dit nie regtig so gedissiplineerd sal deurwerk nie. Hulle sal die eerste deel doen en dit dan neersit, of dalk vinnig deur alles lees. Dis nie ons oogmerk nie. As dit weekliks kom, is die kans beter dat jy dit daardie week sal deurgaan soos dit moet;
  • deur dit te versprei is jy dan vir maande of 'n halwe jaar met 'n tema besig, en kry dit kans om deel van jou lewe te word. Dit gaan nie net oor kopkennis nie (informasie) - dit gaan mos oor toepassing (transformasie);
  • ons wil graag langtermyn-verhoudings bou met vennote - ons wil bedien.

Ons het egter al uitsonderings gemaak vir groter groepe, gemeentes, ens.

3. Vir die gebruik van kursusse in kleingroepe (waarvoor dit ideaal is) is daar reëls: kliek hier vir meer info daaroor...

4. Die kursusse verskil in duur tussen 6 en 45 weke, en as jy klaar is, sal jy dan 'n ander kursus kan doen (of ander Bybelstudiemateriaal of praktiese opleidingsmateriaal kry). Jy sal dus elke week iets kry. Laat weet asb. as jy nie wil voortgaan met jou bydrae nie, dis totaal vrywillig.

5. Ons neem 'n reses oor Desember van so drie weke - sodat ons kan asemhaal en jy kan inhaal! Ons stuur egter tipies 'n aantal dele vooruit, as ons in die middel van 'n kursus met jou is.

6. Kursusse is ons bediening se inkomste en dus NIE verniet nie. Daaruit kan ons weer dit finansier wat wel verniet is en kan ons bediening voortgaan. Ons vra dus 'n verbintenis en maandelikse vooruitbetaling.

7. Die wat in gebreke bly om by te dra sal na die verstryking van 'n maand 'n vriendelike kennisgewing ontvang, waarby ons ook tydelik die stuur van kursusse sal opskort, ter wille van regverdigheid teenoor almal.

8. Vir 'n bydrae van R150 p.m. stuur ons graag aan jou een kursus. Dit is 'n insentief asook ons dankie vir bydraes ontvang. Ons is inderdaad dankbaar vir jou ondersteuning! As jy twee kursusse wil ontvang, is die bydrae R300. Ons stuur selde drie kursusse gelyktydig uit, maar gesels gerus met ons daaroor.

9. Bydraes kan natuurlik enige tyd gestaak word deur ons net te laat weet. No hard feelings...

Dit bring ons by die "disclaimer"...

A. Ons stel dit elders ook duidelik dat hierdie kursusse (en ons kan dit gerus iets anders noem, maar die woord spreek duidelik) nie geakkrediteerde kursusse is nie. Dit is m.a.w. nie deur die staat of enige universiteit geakkrediteer nie - dit lei tot geen kwalifikasie en geen sertifikaat nie. (Dan sou jy ook moes werkopdragte doen, eksamen skryf en so aan!) Ons kursusse is sistematiese lering, Bybelstudies, oor praktiese geestelike temas...

B. Die geld wat jy bydra is ook nie kursusgelde as sulks nie - dis 'n donasie om 'n bediening te bou. Jy kan dit ook sien as 'n sendingbydrae, as jy wil. Ons moet fondse in vir Padlangs, maar wil nie net vra nie, ons wil ook gee.

.